ATKV help om kinders warm te hou
Die ATKV wil graag een keer per kwartaal die kinders trakteer.
SECUNDA – Die ATKV se Kosmosrandtak het Saterdag, 30 Junie 50 komberse as deel van hul winterwarmprojek aan kinders van die omgewing versprei.
Dit is deur mnr. Niezaam Davids van Optimus Investments in Johannesburg geskenk.
Hy het die pakkies wat ook nagklere en serpe ingesluit het, by die Ankergemeente afgelewer en het saam gegaan na waar dit uitgedeel is.
Inwoners van ’n plaaslike kinderhuis is daarna by die Secunda Mall se Space Park en ’n McDonald’s Happy Meal vermaak.
Die ATKV Kosmosrandtak het ook 60 kospakkies saam met behoeftige kinders huis toe gestuur vir die skoolvakansie.
Me. Tracey van Wyk, voorsitter, het die gemeenskap bedank vir hul ondersteuning.
“Sonder julle sou ons dit nooit kon doen nie. Ek glo daarin dat ’n mens seën ontvang as jy jou oor ander ontferm.”
Die ATKV Kosmosrandtak beoog om ten minste een keer ’n kwartaal iets spesiaal vir ’n pleeghuis en ’n tehuis van veilige bewaring in die omgewing te doen.
“Ons sal hulle graag dieretuin toe wil neem. Enigeen is welkom om ook ’n bydrae te maak,” het me. Van Wyk gesê.



