Local newsNews

Oom Fires is ’n legende in bokskringe

Hy het nou wel kleiner, stadiger en effens meer doof geword, maar dié 83-jarige pensiontrekker is steeds vuur en vlam met boksafrigting.

EVANDER – Noem jy die naam Johan van Vuuren wis niemand van wie jy praat nie, maar uiter jy die woorde “Oom Fires”, weet almal in die bokswêreld dadelik na wie daar verwys word.

Mnr. Fires van Vuuren van Evander is waarsynlik die oudste aktiewe lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Boksorganisasie (Sanabo). Hy het nou wel kleiner, stadiger en effens meer doof geword, maar dié 83-jarige pensioentrekker is steeds vuur en vlam in boksafrigting.

“Ek is darem besig om ’n jonger mannetjie op te lei om die rieme oor te neem, want die ouderdom haal my nou effens in,” het mnr. Van Vuuren Vrydagmiddag tussendeur sy sewe worshonde se opgewonde blaffies vertel.

Hy het van kleins af baie in boks belanggestel, maar daardie jare het die ouers erg teen dié sport geskop. “My ouers was bang ek word dom geslaan,” het hy geskerts.

Mnr. Van Vuuren het op ’n plaas in die Lydenburg-distrik grootgeword. Dit was op Hoërskool Lydenburg waar hy by boks betrokke geraak het.

“Ons het ’n jong onderwyser gehad, mnr. Claude Steyn, wat op sy dag die swaargewigbokskampioen van die Universiteit van Pretoria was. Binne twee weke ná hy op die dorp gekom het, het ons ’n boksklub gehad en ek was die sekretaris.”

Mnr. Van Vuuren het op sy dag self nie veel geboks het nie, hoewel hy saam geoefen het.

“Daar was maar nie baie geleentheid vir boks nie, en ná skool het ek op die myne gaan werk waar ek veel eerder aan rugby as boks deelgeneem het.

“Ek het daai jare vir die Springs 0/19-span uitgedraf.”

Hy het in 1953 op Springs-myne as ’n monsternemer begin gewerk en is later met Aletta getroud. Hulle het twee seuns, Johan en Kleintjie.

Die Van Vuurens is later na President Brand-myn op Welkom en het in 1978 na Evander verhuis waar mnr Van Vuuren by Kinross-myn gewerk het.

Hy het hier as skofbaas afgetree.

Sy seuns was nog klein toe hy ernstig weer by boks, en in besonder boksafrigting, betrokke geraak het. “Die seuns het albei goed gevaar in hul boksloopbane. Ons het skaars ses maande op Evander gebly toe ek in afrigting begin het. Destyds was daar ’n afrigter wat van Leslie af gekom het, maar hy kon nie gereeld kom nie, toe het ek later oorgeneem.

“Ek het al die kwalifikasies bekom en is ook as skeidsregter opgelei.” Hy het al in 1972 sy beoordelaarseksamen geslaag en ’n jaar later as skeidsregter gekwalifiseer.

Die Evander-boksklub het in 2000 by die Sasol Boksklub aangesluit en mnr. Van Vuuren was hier ook ’n afrigter.

Die klub het einde ten laaste ’n tuiste by Graceland gevind waar ’n goed ingerigte gimnasium vir die boksers voorsien is.

Mnr. Van Vuuren het ’n gawe om dadelik rou talent in ’n jong bokser op te let en hulle dan te brei om verder te gaan.

Hy het al verskeie kinders so uitgewys wat later jare kampioene geword het.

“Ek het nog ’n houer met kaarte van elke bokser. Onlangs het ’n meisie vir my vertel dat ek haar pa ook afgerig het. Ek het sy kaart getrek en dit vir haar saam gestuur om vir haar pa te wys.”

Hy glo dat boks selfvertroue en dissipline by kinders inboesem.

“Ek leer hulle veral lewenslesse en boks is ook ’n manier om ’n kind te help om vir hom- of haarself op te staan teen boelies, hoewel hulle moet leer om nie uit woede te slaan nie.”

Mnr. Van Vuuren is na die dood van sy eerste vrou weer getroud. Hy en tant Martie is al 31 jaar getroud.

Dié 80-jarige is ook ’n boksliefhebber en dien as die sekretaris van Mpumalanga Boks.

Mnr. Fires van Vuuren is ‘n bekende in bokskringe.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button