Local newsNews

Voornemende vlieëniers kan nou op Ermelo opleiding kry

Ouderdom speel nie ’n groot rol in die vermoë om te kan vlieg nie. As die passie daar is en die persoon is medies gesond, kan enigiemand vlieg.

Voornemende vlieëniers van Ermelo en omgewing hoef nie meer ver te gaan om hul vlieglisensie te kry nie.

Marco Barnard is die kettingeienaar van die Outeniqua Flight Academy (Ermelo Flight School CAA/0249) .

Dié vliegskool het in 2006 in Plettenbergbaai ontstaan en Marco is sedert 2016 die instrukteur op Ermelo.

Die vliegskool is by die Ermelo Vliegveld gebaseer en slegs 30km oos van Ermelo bevind die student hom in die hart van Suid-Afrika se meerdistrik, Chrissiesmeer, waar daar sowat 270 mere is.

Die vliegveld is in ’n ongekontroleerde lugruim wat verseker dat daar nie baie tyd op die grond verkwis word nie weens ander lugverkeer en dit ideaal vir vliegopleiding maak.

Marco het in 2007 begin vlieg en sy privaatvlieënierslisensie binne drie maande by Rand Airport verwerf.

Hy het in 2009 sy kommersiële vlieglisensie verwerf terwyl hy voltyds as operasionele klerk vir ’n lugredery gewerk het. Hy het direk daarna sy vlieginstrukteurgradering gedoen.

Ses vlieëniers het al lisiensies suksesvol deur OFA Ermelo Flight School verwerf.

Studente moet ten minste 16 jaar oud wees en kan op die ouderdom van 17 jaar ’n privaatvlieënierslisensie verwerf.

’n Minimum van 45 vliegure word vereis, waarvan 30 saam met die instrukteur afgelê word en 15 solo gevlieg moet word.

Die teorie bestaan uit agt vakke wat in 18 maande geskryf moet word. Wiskunde, wetenskap en aardrykskunde as skoolvakke is nie ’n vereiste nie maar kan voordelig wees.

’n Privaatvlieënierslisensie stel ’n vlieënier in staat om vir plesier en persoonlike sake te vlieg, sowel as om passasiers op te neem vir privaat doeleindes.

Wanneer ’n student ’n professionele vliegloopbaan oorweeg is ’n kommersiële vlieënierslisensie ’n vereiste en dié lisensie stel ’n vlieënier in staat om geld te verdien vir sy vliegdienste. Om vir dié lisensie te kwalifiseer, moet ’n student 200 vliegure aflê waarvan 100 solo-ure vereis word en agt kommersiële vakke geskryf word.

Alle opleiding word op ’n een-tot-een basis gedoen, persoonlike aandag word verseker en daar word aan elke student se individuele vereistes voldoen.

Die skool beskik oor ses opleidingsvliegtuie op hul operasionele lisensie, waarvan die primêre een ’n Cessna 172 is. Marko het mnr. Louis Swart, eienaar van die Cessna 172, en die loods wat die skool gebruik bedank vir sy passie en liefde vir vliegvaart en sy betrokkenheid by die vliegskool.

Die jongste vlieënier wat Marco al getoets het, was 18 jaar oud en hy het onlangs ’n 85-jarige getoets vir die hernuwing van sy privaatvlieënierslisensie.

Ouderdom speel nie ’n groot rol in die vermoë om te kan vlieg nie. As die passie daar is en die persoon is medies gesond, kan enigiemand vlieg.

Studente kom van Ermelo en omgewing en van so ver as Dullstroom en Potgietersrus en dan is daar tans drie internasionale studente vanaf Namibië, Zambia en Indië.

Die skool bied die volgende kursusse: privaatvlieënierslisensie, nasionale vlieënierslisensie (NPL), naggradering, instrumentgradering, multi-enjingradering en instrukteurgradering.

As jy belangstel om te leer vlieg of navrae het, skakel Marco by 083 453 5204, e-pos hom by marco@avpilot.co.za of besoek sy webtuiste by www.avpilot.co.za.

Marco Barnard is die instrukteur by die Ermelo-vliegskool.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button