Jong man van Secunda maak goeie vordering ná beroerte
“Niks berei ’n mens vir so iets voor nie. Een oomblik is jou kind nog op die oog af gesond en die volgende oomblik weet jy nie of hy sal leef nie.”
Jandré Truter (18) sterk goed aan ná ’n beroerte op Donderdag, 5 Julie.
Volgens sy ma, me. Magda Truter, is Jandré nou van die waakeenheid in die Mediclinic Highveld na ’n gewone saal geskuif en maak goeie vordering.
Jandré het verlede jaar matriek geskryf by Hoërskool Secunda en het vanjaar elektriese ingenieurswese aan die Vaal Tegnikon se Secunda-kampus studeer.
“Hy was vir ’n geruime tyd nie gesond nie. Hy is in Junie met ulcertative colitis gediagnoseer en is daarvoor behandel, maar hy het agterna nog oor pyn gekla en nie lekker gevoel nie. Hy het die vorige Woensdag gekla dat sy rug en skouers baie seer was,” het me. Truter vertel.
Sy het groot geskrik toe Jandré die Donderdagoggend omstreeks 4vm in die badkamer flou geval en sy gesig op die teëls beseer het.
“Ons het na die hospitaal se ongevalle gejaag. Hy het self die ongevalle-afdeling ingestap en ek het nie verwag dat hy twee ure later om sy lewe sou veg nie,” het me. Truter gesê.
Jandré is dieselfde dag in die waakeenheid opgeneem en aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel.
Die dokters het teen die Saterdag vasgestel dat Jandré ’n beroerte gehad het wat die linkerkant van sy liggaam aangetas het. Hy kon glad nie sy linkerarm gebruik nie, het nie sig in sy linkeroog gehad nie en sy linkerbeen was verlam. Die rede vir die aanval is steeds ’n raaisel.
Jandré, wat self ’n bloedskenker is, moes ook eenhede bloed ontvang. Hy het deur middel van ’n spelraam met sy ouers gekommunikeer totdat die ventilatorpyp verlede Vrydag verwyder is.
“Deur God se genade gaan dit elke dag net beter met Jandré. Ek is so dankbaar dat Jandré nog op sy pa se mediese fonds is. Ek dink as dit nie vir die goeie sorg was wat hy hier ontvang nie, sou my kind dit nie oorleef het nie.”
Me. Truter het Maandag teen spertyd vertel dat Jandré al met behulp van ’n loopraam oor die weg kan kom. “Sy linkeroog kan al fokus en hy het al gevoel terug in sy arm. Hy kry terapie om hiermee te help.
“Niks berei ’n mens vir so iets voor nie. Een oomblik is jou kind nog op die oog af gesond en die volgende oomblik weet jy nie of hy sal leef nie.”
Die Truters dra elke dag aan die Here op en vertrou op Hom vir krag en genesing. Jandré se gemoed was verlede week nog swaar, maar volgens me. Truter het dit ook al baie verbeter.
“Daar is nog ’n pad na herstel wat voorlê, maar net die Here kan bepaal hoe lank dit sal duur. Ons is nie negatief nie.”
Me. Truter het almal wat vir hulle gebid het, bedank en gevra om Jandré steeds in hul gebede te hou.



