Rina Louw geniet haar werk as maatskaplike werker
Famsa bied kliniek aan oor verhoudings.
SECUNDA – Me. Rina Louw, maatskaplike werker by Famsa, geniet haar werk terdeë.
Sy het, nadat sy vir bykans twee jaar in London in Engeland gewerk het en in Thailand by ’n rehabilitasiesentrum vir verslawing as berader en op Hermanus en Pretoria as maatskaplike werker gewerk het, haar op Secunda kom vestig.
“Ek wou nie langer in London woon nie, want die son skyn nooit daar nie,” het sy oor haar tyd in London gesê.
Thailand het sy baie geniet, maar sy het na ’n Desembervakansie in Suid-Afrika besluit om te bly.
“Die weer in Thailand was baie lekker en ek kon altyd kaalvoet rondloop.”
Sy het in Julie by Famsa begin werk en beplan ’n paar nuwe dinge.
Een daarvan dié dinge is ’n verhoudingskliniek wat elke Saterdag gaan plaasvind sodat mense wat deur die week werk, dit ook kan bywoon.
Dié kliniek gaan enige uitdagings wat met verhoudings te doen het, hanteer.
Dit sluit verhoudings in die familie of gesin in, verhoudings by die werk en ’n verhouding met jouself.
Me. Louw se hart en passie is individuele berading en om individuele probleme aan te spreek.
Sy het voorheen as spelterapeut ook gewerk.
Spelterapeute leer kinders hoe om deur middel van speletjies probleme te hanteer of hul emosies te verwerk.
Sy gaan in die Secunda-omgewing en Nelspruit werk.
In haar vrye tyd, is me. Louw ’n ywerige pottebakker.
Sy beoefen dié stokperdjie al vir 15 jaar en het onlangs vir haar ’n nuwe oond en toerusting bestel.
Vir meer inligting oor Famsa of die kliniek, skakel hulle by 017 631 1593.



