Local newsNews

Keagan Sonnekus is gediagnoseer met epilepsie

“Dit ontstel ons as ouers om ons kind so te sien, maar ons glo by God is enige iets moontlik.”

Keagan Sonnekus het Woensdag, 12 September sewe maande oud geword.

Dit is ook die dag dat hy met epilepsie gediagnoseer is nadat hy ’n aanval vir bykans twee ure gehad het en ’n beroerte gekry het.

Dokters het daarna gesien dat Keagan se hele linkerkant verswak het en gedeeltes aan sy regterkant is verlam.

“Dit was verskiklik om hom só te sien. Ons was magteloos en kon hom nie eers vashou nie,” het sy ma, me. Madie Sonnekus, vertel.

Hy is onlangs met bakteriese breinvliesontsteking gediagnoseer en is sedert 31 Augustus in die hospitaal.

Keagan het verkouesimptome begin toon en sy oë het na mekaar getrek. Sy ma het hom dadelik na die dokter geneem.

Keagan Sonnekus is steeds in Ermelo provinsiale hospitaal. Hy het onlangs ’n twee-ure lange epilepsie-aanval gehad. (Foto: Verskaf)

Toetse het bevestig dat Keagan breinvliesontsteking het, waarna hy in die intensiewe sorgeenheid in Ermelo se provinsiale hospitaal opgeneem is.

Daar is onlangs toetse gedoen om te bepaal of Keagan op die medikasie reageer en volgens die toetsuitslae wat sy ouers Maandag, 17 September ontvang het, is daar geen breinvliesontsteking meer sigbaar nie en ook geen bakterie in sy brein nie.

“Ons vertrou volkome op die Here dat Keagan ten volle sal genees.”

Keagan moet nog ’n fisioterapeut sien om te help om sy lyfie weer te versterk. Sy ma het ook gesê dat die skade wat sy oë opgetel het, volgens sy dokters nie permanent is nie en met tyd ten volle sal herstel.

“Dit ontstel ons as ouers om ons kind so te sien, maar ons glo by God is enige iets moontlik. Ons as mens is die klei en God is ons pottebakker. Ons weet dat Hy niks oor ons pad sal stuur wat ons nie kan hanteer nie.”

Me. Sonnekus het ook aan die Hoëvelder vertel dat hulle Keagan by ’n pediater wil kry vir ’n tweede mening en om seker te maak dat daar geen ander skade is nie.

“Ons wil alles in ons vermoë doen om Keagan ’n tweede kans op ’n normale lewe te gee.”

Me. Sonnekus het gesê dit gaan tans goed met Keagan en dat hy stadig maar seker by die dag verbeter. Die personeel van die provinsiale hospitaal kyk goed na Keagan en die hoofuitvoerendebeampte van die hospitaal het ook ’n besoek by Keagan afgelê en vir hom gebid.

Sy het elke personeellid bedank vir die manier waarop hulle na Keagan omsien en vir die ekstra myl wat hulle loop.

’n Trustrekening is by Pas Prokureurs geopen om geld vir Keagan se mediese uitgawes in te samel omdat sy ouers nie oor ’n mediese fonds beskik nie.

Die rekening waarin donasies gemaak kan word, is Pieter Stoffberg Ingelyf Trust, trustrekening, FNB, takkode 270 344, rekeningnommer 62092150326, verwysing K. Sonnekus. Alle donasies sal ten volle aangewend word vir Keagan se behandeling.

Lees ook:

https://highvelder.co.za/68177/ses-maande-oue-keagan-veg-teen-lewensgevaarlike-breinvliesontsteking/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button