Ernstig beseerde Johan sterf in waakeenheid
Dié motorfietsentoesias van Bethal het ernstige hoofbeserings opgedoen toe sy Toyota Hilux-bakkie en aankomende ’n Toyota Yaris omstreeks 6.30vm. net voor die Charlie 5-klokstasie gebots het.
SECUNDA – Me. Martie Labuschagne het die naweek met ’n skok besef dat die liefde van haar lewe wat Donderdag in die waakeenheid aan ernstige hoofbeserings beswyk het, van plan was om haar met ’n troue op die strand in Desember wou verras het.
Mnr. Johan Janse van Rensburg (58), ’n Sasol-werker, is op 15 September ernstig in ’n motorongeluk naby Charlie 5 beseer en is op Donderdag, 27 September, in die waakeenheid van die Netcare Union Hospitaal in Alberton dood.
Dié motorfietsentoesias van Bethal het ernstige hoofbeserings opgedoen toe sy Toyota Hilux-bakkie en ’n aankomende Toyota Yaris omstreeks 6.30vm net voor die Charlie 5-klokstasie gebots het.
Mnr. Janse van Rensburg was oppad Sasol toe waar hy as elektrisiën gewerk het.
Hy is die oggend deur Langamed South na die Highveld Mediclinic vervoer en toe per ER24-helikopter na die hospitaal in Alberton waar hy in die waakeenheid onder verdowing gehou is. Hy was ook aan lewensondersteuningsmasjiene gekoppel.
Lees ook:
https://www.citizen.co.za/ridge-times/124317/two-people-seriously-injured-car-crash-near-sasol/
Me. Labuschagne moes die naweek in die kluis soek vir mnr. Janse van Rensburg se dokumente sodat sy begrafnisreëlings kan begin tref en het op die trouring met die datum 8 Desember afgekom. Volgens haar het hulle gepraat oor ’n seevakansie in Desember en was die idee om dalk op die strand af te haak, maar daar was nog geen vaste troudatum nie.
“Dit is so tipies van die soort mens wat hy was. Hy was dol daaroor om my te verras en te bederf,” het me. Labuschagne vertel. Die paartjie was die afgelope ses jaar saam.
“Hy was my hero. Ons huis is groot en leeg sonder hom.”
Volgens me. Labuschagne het mnr. Janse van Rensburg meer as 60 steke in sy kop gekry en was sy sesde en sewende nekwerwel in die motorongeluk beseer.
“Johan het baie lang hare gehad wat ek altyd vir hom gevleg het. Die vlegsel is in die hospitaal afgeskeer toe hulle die steke moes insit. Ek wil dié vlegsel saam met sy liggaam laat veras.”
Mnr. Janse van Rensburg het met tye bygekom en met me. Labuschagne gekommunikeer, hoewel daar nog pype in sy mond was.
Hy het in die tyd ook ’n operasie ondergaan om die nekwerwels te herstel, hoewel hy steeds daarna nie gevoel in sy bene gehad het nie.
“Ons het vermoed dat Johan verlam sou wees, maar ek het nie gedink hy gaan sterf nie.”
Me. Labuschagne vermoed haar geliefde het geweet sy tyd is naby want hy het met mense om hom probeer verenig en hy was ook baie emosioneel.
Sy en mnr. JJ Ferreira, haar seun wat die oggend van die ongeluk verby die toneel gery en so besef het dat mnr. Janse van Rensburg beseer is, het Maandag teen druktyd na Alberton vertrek om die liggaam op te eis en om die nodige reëlings te begin tref.
Die begrafnisreëlings was nog nie bekend teen tye van te perse gaan nie.
Mnr. Janse van Rensburg laat sy kinders uit ’n vorige huwelik, kleindogters, verloofde, vriende en familie agter.
“Dit was sy grootste trots in die lewe om ’n oupa te wees,” het me. Labuschagne vertel.




