Tily en Germa het harte vir kankerpasiënte
Vriendinne begin met Bybel-joernaal-sessies
SECUNDA – Me. Tilly van Tonder glo dit was ’n geestelike afspraak toe sy en me. Germa du Toit se paaie vir die eerste keer gekruis het.
Me. Du Toit het vir me. Van Tonder in 2012 borduurwerk gedoen toe me. Van Tonder haar projek vir kankerbewusmaking gedryf het.
Met dié projek het sy beertjies geskenk aan kankerpasiënte en bewusmaking gedoen.
Me. Van Tonder is in 2006 met borskanker gediagnoseer en vandaar haar passie vir kankerpasiënte.
Me. Du Toit se ma wat ’n verpleeg suster was, het gereeld kankerpasiënte besoek as deel van haar werk en me. Du Toit het van jongs af ’n hart vir kankerpasiënte gehad.
“Ek was nog op skool toe my ma terminale kankerpasiënte moes verpleeg en sy het my bewus gemaak van kanker,” het me. Du Toit gesê.
Haar ma, me. Elize du Toit, is toe me. Du Toit 18 jaar oud was, in ’n kaping geskiet en is later in die hospitaal dood.
Die koeël het deur haar long en hart gegaan.
“Ons het vir die dag Kemptonpark toe gery om by my ouma te gaan kuier en ek was vlooimark toe saam met ’n vriend, terwyl my ma na my ouma se kleuterskool toe is,” het me. Du Toit vertel.
“Sy is voor die kleuterskool geskiet by haar voertuig toe drie mans by haar voertuig was en haar beursie en selfoon gevat het.
“Sy het, nadat hulle weggehardloop het, na die kleuterskool geloop.”
Dokters het ’n noodoperasie wat sowat sewe ure geduur het, op me. Du Toit uitgevoer, maar sy het later aan haar wonde beswyk.
Sy beskou haar tweeling, Kegan en Zoë (5) as ’n wonderwerk nadat Zoë amper dood is.
Sy het verlede jaar in Februarie vir langer as ’n uur ’n epileptiese aanval gekry en het ophou asemhaal.
By die hospitaal het dokters haar aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel en sy het eers ses ure later weer self begin asemhaal en drie dae later weer regop gesit en normaal begin praat.
“Ek het groot geskrik want ’n mens weet nie of jou kind breinskade opgedoen het of wat nie,” het me. Du Toit gesê.
Zoë is vandag in ’n ander kleuterskool as haar tweelingboetie en me. Du Toit het gesê sy kan sien sy ontwikkel bietjie stadiger as haar boetie, maar sy glo teen die tyd dat die tweeling groot skool toe moet gaan, sal Zoë ook gereed wees om na ’n hoofstroomskool toe te gaan.
Me. Du Toit werk voltyds as bestuurder van die Faith4U Boekwinkel by die Kruik Kerk en sy glo haar werk gee haar ’n platform om ’n pad met mense, onder andere kankerpasiënte, te stap.
“Baie kankerpasiënte kom hierheen op soek na inspirasie in die vorm van musiek of boeke en ek kry dan die geleentheid om bietjie met hulle te gesels,” het me. Du Toit gesê.
“Ek het vir die Here gevra dat Hy my moet stuur na ’n plek waar Hy my kan gebruik.”
Me. Van Tonder glo dit was ’n wonderwerk dat sy gekies is om die boekwinkel by die Kruik Kerk oop te maak en sy het in 2009 begin met kankerbewusmakingsveldtogte en het al pienk hare en teddiebere verkoop.
“Van ons teddiebere het al oorsee gegaan toe ’n vrou, nadat haar dogter aan kanker dood is, die teddiebeer en die storie van die teddiebere, na familie oorsee gestuur het,” het me. Van Tonder gesê.
“Ek het by Sasol Mynbou gewerk en het ’n passie vir Jesus en God sê in Sy Woord Hy gee ons die begeertes van ons hart en dit was my begeerte om ’n winkel oop te maak.”
Sy en haar man, mnr. Dean van Tonder was vir ’n paar jaar weg van Secunda toe hulle onderskeidelik in Johannesburg en Mosambiek gewoon het, maar hulle is nou terug en me. Van Tonder wil weer aandag gee aan haar kankerbewusmakingsprojekte.
Hulle verkoop vanjaar haarknippe met pienk hare om mense bewus te maak van kanker en om gereeld vir ondersoeke te gaan.
Dié knippe is vanaf 1 Oktober beskikbaar by Faith4U Boekwinkel teen R20 per knip.
Me. Van Tonder en me. Du Toit beplan ’n nog groter projek vir volgende jaar, maar wil nog nie baie uitlap oor wat hulle alles beplan nie.
Hulle het onlangs ook begin met Bybeljoernale waar ’n groep vroue bymekaar kom en saam Bybel lees en dan saam prentjies teken en notas maak oor wat hulle ervaar.
“Jy kry nou spesiale joernaal-Bybels wat spasie het om notas te maak, prentjies te teken en in te kleur,” het me. Du Toit gesê.
Hulle het reeds die eerste Bybeljoernaal-oggend gehad en die volgende een vind Saterdag, 6 Oktober, tydens die winkel se 10de verjaarsdag plaas.
Belangstellendes is welkom om dié sessie by Faith4U by te woon.
Dit begin om 10vm.




