André Blom reël jaarliks Kansa Sanlam Gholfuitdaging
Lewensafrigting het hom baie oor mense geleer.
SECUNDA – Mnr. André Blom is op sy gelukkigste as hy tussen mense kan wees en hy hou nie daarvan om meneer genoem te word nie.
Hy is ‘n kranige gholfspeler en reël jaarliks die Kansa Sanlam-gholfuitdaging wat by Graceland Gholfklub plaasvind.
Mnr. Blom het by Kansa betrokke geraak omdat sy vrou, me. Else Blom, ‘n kankeroorwinnaar is.
Sy is 14 jaar gelede met kolonkanker gediagnoseer, maar is al 12 jaar skoon van kanker.
Mnr. Blom het op Alberton, Ladysmith en Durban grootgeword.
Hy het na skool industriële chemie aan die Universiteit van Potchefstroom studeer en daarna eers op Sasolburg as tegnikus gewerk en later by Sasol op Secunda as produksiebestuurder.
Die gesin het in 1978 na Secunda verhuis en mnr. Blom onthou dat daar toe nog geen bome en min teerstrate op Secunda was.
“Sasol het vir elke gesin drie struike gegee om te plant en die gemeenskap was klein en almal het mekaar geken.”
Mnr. Blom het op 58 afgetree en ‘n kursus in lewensafrigting gevolg.
“Ek het nie afgetree nie, ek het uitgetree, daar is ‘n groot verskil.
“Ek het uitgetree uit my oorspronklike loopbaankeuse as produksiebestuurder en met ‘n nuwe fase in my lewe begin.
“Ek hou daarvan om met mense te werk en het in my werk by Sasol altyd meer van die mense gehou as van die tegniese deel van my werk.”
Mnr. Blom maak ‘n punt daarvan om almal wat sy pad kruis, se name te ken en meer oor hulle uit te vind.
Mnr. Blom fokus nou meer op gholf nadat hy eers op 42 begin gholf speel het.
Hy is op die Hoëveld Sages Gholfunie se komitee en al 14 jaar op Graceland Gholfklub se komitee.
Mnr. Blom probeer om ‘n gebalanseerde en gesonde leefstyl te handhaaf en doen Pilates in sy vrye tyd.
Hy het in 2011 begin gholf speel op die datum wat ooreenstem met die jaartal.
Hy het vanjaar op die 18de van elke maand gholf gespeel en op 19 April 2019 sal dit die 100ste keer wees dat hy op die jaartal gholf speel.
Mnr. Blom en ‘n vriend, mnr. Chris van Rensburg, het ook ‘n reëling om jaarliks 72 putjies gholf op een dag te speel.
Hulle het dit al drie keer gedoen en beplan om dit vanjaar weer in Desember te doen.
“Ons slaan dan omstreeks 5.30vm af en maak om 6nm klaar.”
Hy en mnr. Van Rensburg en ander gholfspelers het op 12 Desember 2012 om 12.12nm afgeslaan. Hulle het dit spesifiek so gereël.
Mnr. Blom het drie seuns, twee skoondogters en kleinkinders met wie hy graag tyd bestee.





