CrimeNews

Mnr Jan Coetzer is bly hy leef nadat rowers hom oorval in sy huis op Kinross

Man glo die Here het hom beskerm nadat vuurwapen drie keer nie afgaan

KINROSS – Mnr. Jan Coetzer glo die Here het hom beskerm Donderdagoggend, 11 Oktober en sy lewe gered nadat drie mans hom by sy huis op Kinross aangerand het.

Mnr. Coetzer het sy vrou, me. Estelle Coetzer, stigter en eienaar van Janelle Huis (’n plek van veiligheid vir kinders), om 6.30vm afgesien en toe in sy motorhuis waar hy oefentoerusting het, gaan oefen.

Hy het badkamer toe gegaan en toe hy teruggaan motorhuis toe om verder te oefen, het hy drie mans in die erf gesien en die sekuriteitshek probeer toemaak, maar hulle was te vinnig vir hom en het hom in die huis ingeboender.

Een van hulle het ’n vuurwapen gehad en het dit op mnr. Coetzer gerig, terwyl die ander twee die heeltyd in Engels geskreeu het: ‘Shoot him, shoot him.’

“Die wapen het soos ’n 9mm-pistool gelyk en dit het gelyk of hy drie keer die sneller getrek het, maar daar het geen koeëls uitgekom nie,” het mnr. Coetzer vertel.

“Ek weet nie of daar nie rondes in was nie en of dit die Here was wat gekeer het dat daardie skote nie kon afgaan nie.”

Die toneel waar mnr. Jan Coetzer Donderdagoggend in sy huis op Kinross aangerand is deur drie mans.

Die booswigte het mnr. Coetzer in die huis ingedwing en hom herhaaldelik met die vuurwapen oor die kop geslaan.

“Ek het gekeer met my hande, dan voel ek my hande word seer, dan neem ek dit weg, maar dan voel ek dit is nog seerder as hulle my teen my kop slaan, dan sit ek maar weer my hande terug.

“Ek het vir die Here gevra of Hy my gaan kom haal. Dit was vir my vreemd dat ek nie duislig geraak het terwyl hulle my geslaan het nie. Ek het hardop vir hulle begin bid in Arikaans en gesê: ‘Here vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.’

“Ek het besef ek kry nou vir ’n oomblik seer, maar hulle siele gaan vir ewig verlore wees en toe ek begin bid het, het hulle opgehou om my te slaan.

Mnr. Jan Coetzer is Donderdagoggend deur drie mans in sy huis op Kinross aangerand.

“Hulle het vir die afstandbeheer van die groot hek gevra en ek vermoed dit is omdat hulle die voertuig waarop hulle die gesteelde goed wou laai, wou laat inkom. Hulle het die heeltyd gesê ek mag nie opkyk nie want dan gaan hulle my skiet.

“Hulle het toe vir die kluis se sleutels gevra en my rewolwer wat ek seker 20 jaar laas gebruik het en sy rondtes, gevat. Die volgende oomblik het hulle gevra waar die ander kluis is en ek het gesê ek het nie nog ’n kluis nie. Toe het hulle gevra vir geld en ek het gesê ek het nie.

“Dit het stil geraak en ek het naderhand deur my linkeroog probeer loer of ek hulle sien, maar my oog was vol bloed en ek het opgekyk en gesien hulle is weg.”

Mnr. Coetzee het na die motorhuis gegaan waar sy selfoon was en sy familie en die polisie geskakel.

Hy het gesê hy is dankbaar dat sy vrou nie by die huis was toe die voorval plaasgevind het nie.

Die diewe het gevlug met twee televisies, me. Coetzer se juwele en mnr. Coetzer se rewolwer.

Mnr. Coetzer is hospitaal toe geneem waar hy steke in sy kop gekry het.

Sy vingers het ook seergekry en hy moes Dinsdag, 16 Oktober terug dokter toe sodat die dokters van sy vingers weer in posisie kon druk en een vinger kon spalk.

Die polisie ondersoek nog die saak en sers. Jaco Nagel, skakelbeampte van Kinross Polisie, het gesê hulle het inligting gekry dat daar die vorige dag (Woensdag, 10 Oktober) by die huis langs die Coetzers se huis ingebreek is en dit kan moontlik dieselfde mans wees.

Die sitkamer van mnr. Jan Coetzer se huis op Kinross waar hy Donderdagoggend deur drie mans aangerand is.
Die toneel waar mnr. Jan Coetzer Donderdagoggend aangerand is in sy huis op Kinross.

Lees ook:

https://www.citizen.co.za/ridge-times/119569/robber-try-to-shoot-manager-then-take-off-with-thousands-from-internet-lounge/

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button