Local newsNews

Awie Spies geniet kankervrye lewe na sy stryd met klierkanker

“Die Here was nog net goed vir my gewees. Deur die behandeling het Hy my gedra en gehelp om my daaglikse take normal voort te sit.” het mnr. Spies vertel.

Na die kankerstap wat Vrydag, 9 November by Mediclinic Ermelo plaasgevind het, het ons besluit om by een van die kanker-“survivors” te gaan kuier.

Mnr. Awie Spies is vir die eerste keer in 1995 met klierkanker gediagnoseer. Min het hy geweet dat hy en sy gesin die pad drie keer gaan stap.

Hy het ‘n knop in sy lies ontwikkel wat hy vertel nie gevoelig was, of hom gepla het nie.

Nadat sy vrou, me. Bets Spies aangedring het dat hy ‘n dokter moet besoek, is hy verwys na Trichardt, waar die knop uitgesny is en weggestuur is vir verdere toetse.

‘n Week later het die toetse bevestig dat mnr. Spies klierkanker het.

“Dit was ‘n geweldige skok vir ons as gesin. Ons het nooit verwag dat die toetsuitslae ons lewe so sou beïnvloed nie.” het me. Spies gesê.

Mnr. Spies, wat ten tye van sy diagnose in diens van die polisie was, het vir agt maande lank chemoterapie in Pretoria ontvang.

Sy vrou vertel met trots dat hy ten spyte van die chemo nie een dag by die werk afwesig was nie.

Hy het die dae wat hy behandeling moes ondergaan, die oggend deurgery en na die behandeling is hy terug werk toe.

Mnr. Awie Spies tydens die kankerstap wat Vrydag, 9 November by Medi Clinic plaasgevind het.

Met ‘n glimlag vertel hy dat daar dae was dat hy die susters probeer aanjaag het, omdat hy later die dag in die hof moes verskyn.

Daar is dae wat hy soms lomerig langs die pad geraak het, maar vertel dat die behandeling hom nie siek gemaak het nie.

“Die Here was nog net goed vir my. Deur die behandeling het Hy my gedra en gehelp om my daaglikse take normaal voort te sit.” het mnr. Spies vertel.

Hy was vir sowat vyf jaar in remissie, na hy een oggend ‘n ander knop gevoel het en is deur dieselfde proses om dit te laat verwyder en weer het die resultate van die toetse aangewys dat die kanker terug is.

Hoewel mnr. Spies rede gehad het om platgeslaan te wees, het hy gekies om positief te bly en het deur dit steeds geglo dat die Here hom gaan genees en hy die kanker gaan oorwin.

Me. Spies het met trots vertel dat haar man die een was wat sterk gestaan het, nie net vir homself nie, maar ook vir sy gesin.

Hy het hom nie laat onderkry nie en gekies om te lewe.

“Tydens sy eerste diagnose het ons oudste dogter haar matriekjaar voltooi en was sy in ‘n tweestryd of sy moet universiteit toe gaan en of sy eerder by haar pa moet bly.

Hy het haar oortuig dat hy die kanker gaan oorwin en dat sy haar studies moet aanpak.” het me. Spies vertel.

Die derde keer dat mnr. Spies gediagnoseer is, het hy ‘n knop, wat byna die grootte van ‘n gholfbal was op sy been ontdek.

Hy het weer behandeling ontvang en is vandag bykans 13 jaar later, steeds in remissie.

Sy raad vir ander wat in die stryd teen kanker is, is om nie op ‘n hoop te gaan sit en die handdoek in te gooi nie, maar om altyd positief te bly en om elke dag aan te hou baklei.

Sy vrou het bygevoeg dat mense dadelik werk daarvan moet maak en by ‘n dokter uitkom indien daar enige ongewone knoppe op jou lyf voorkom.

Hy en sy vrou glo vas dat mnr. Spies se positiwiteit en geloof in die Here hom en sy gesin deur dié stryd gedra het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button