Local newsNews

Charlotte hoop om berg broodgespes vir paar rolstoele te verruil

Albany en Sasko het elk aangebied om rolstoele te skenk as me. Taljaard daarin sou slaag om 500 000 gespes bymekaar te maak

SECUNDA – Me. Charlotte Taljaard is oortuig daar is meer as ‘n miljoen broodgespes wat die naweek haar swembad versier het.

Sy het in 2014 die projek “Bread tags for wheelchairs” plaaslik begin waar beide Albany en Sasko aangebied het om rolstoele te skenk as me. Taljaard daarin sou slaag om 500 000 gespes bymekaar te maak.

Me. Taljaard het ná ‘n berig in Ridge Times skenkings ontvang vanuit Secunda, Bethal en Kriel. Sakeondernemings soos Spar en welsynsorganisasies soos Mpumalanga Geestesgesondheid het ook gespes aangedra. Selfs die skole, veral Laerskool Secunda, het groot bydraes gelewer.

“Daar is vandag steeds mense wat vir my gespes bring,” het sy Saterdag, 10 November, langs die swembad vertel.

Dié berg lastiek gespes en bottelproppe is maar net ’n gedeelte van dit wat ingesamel is.

Die gespes het ook uitgebrei na die versameling van bottelproppies van plastiek.

Me. Taljaard het destyds besef watter groot impak ‘n rolstoel op ‘n gestremde se lewe het.

“Absa het gehelp dat ons vir ‘n familielid se gestremde kind ‘n rolstoel gekry het. Dit het sy lewetjie baie verander.”

Kort hierna het me. Taljaard ‘n berig in ‘n nasionale tydskrif gelees van ‘n bejaarde vrou wat gespes insamel in ruil vir rolstoele.

Dit het me. Taljaard so begeester dat sy haar eie projek begin het.

Die plastiek-proppies het naderhand bygekom en sal ook vir herwinning ingegee kan word.

Dis hoe groot ’n sakkie is wat 1 000 broodgespes bevat.

Dit was Saterdag die groot dag om met die groot inweeg te begin, maar eers moes die bokse vol gespes en proppies wat deur die jare opgehoop het, gewas word.

Me. Taljaard het toe met die plan vorendag gekom om alles in die swembad te gooi.

Die swembad wat sowat 70 000l water hou, het gewemel van kleurvolle gespes en proppe, waarvan die meerderheid begin afsak het tot op die bodem.

Me. Taljaard se man, Ronnie, het onlangs ‘n rugoperasie ondergaan en was dus nie in staat om hand by te sit nie, maar advies was volop.

Die Taljaards se tuinwerker, mnr. William Mokwena, en me. Chrizelle Nel, me. Taljaard se dogter, het hand bygesit om die reuse taak uit te voer.

Mnr. Mokwena het gebieg dat hy in die begin geensins verstaan het wat in die vroue gevaar het nie, maar ná daar aan hom verduidelik is waarvoor me. Taljaard die gespes gaan veruil, was hy kennelik beïndruk.

“Ja, ek dink dis eintlik baie slim,” het hy gesê.

Me. Charlotte Taljaard bestrooi haar swembad met broodgespes.

Hulle het die Saterdag en Sondag omgewerk om die plastiek mosaïek op die Taljaards se swembad uit te skep.

“Ek het die swembadnet ingespan terwyl Chrizelle met ‘n mandjie die gespes uitgeskep het.”

Die werk is egter nog nie klaar nie.

Heelwat gespes is nog op die bodem van die swembad en dit wat reeds uitgeskep is, moet nog sorteer en geweeg word.

“Ons sal maar net weeg en nie eers probeer tel nie. ‘n Half miljoen gespes is veronderstel om 20kg te weeg.

“Ek het twee visskale aangeskaf en ons sal maar daarop moet werk,” het me. Taljaard verduidelik.

Sodra alles geweeg en in sakke gepak is, sal dit na die afsetpunt vervoer kan word.

Mense wat me. Taljaard graag wil help, kan haar skakel by 083 666 6102.

Me. Charlotte Taljaard strooi broodgespes in haar swembad.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button