Local newsNews

PJ wil boodskap uitdra met sy enkelsnit-video “12 uit 10”

“12 uit 10” is die boodskap wat ek aan ander wil uitdra en waarmee ek mense wil motiveer om hul eie identiteit te omhels.

SECUNDA – Die mooi vrou in die bad is opgetof in rooi – oorkant haar sit PJ Pretorius in ‘n wit T-hemp.

Stuk vir stuk haal hy haar swaar grimering, klomp juwele en vals naels af.

Uiteindelik is sy net haar natuurlike sproetgesiggie-self en hy vertel vir haar sy is “12 uit 10”.

Dít is ‘n toneel uit PJ se eerste enkelsnit-video wat eersdaags vrygestel word en dit dra ‘n boodskap uit dat ‘n mens nie hoef voor te gee om iets anders as net jouself te wees nie.

’n Greep uit die video van “12 uit 10”.

“Die mense wat saak maak in die lewe, is diegene wat jou liefhet net soos jy is,” het PJ verlede week vertel.

Die liedjie “12 uit 10” is een van die snitte op PJ se CD.

Dié liedjie is nou eerste uitgereik en is reeds op verskeie radiostasies gespeel, selfs in Nederland.

“Ons het dit ook reeds aan groter stasies aangebied en hou nou duim vas dat hulle dit sal speel,” het PJ gesê.

Sy span werk met een ding in die oog, die Goemas. Renier Bester het “12 uit 10” geskryf. Dit is ‘n op-tempo-liedjie waarby PJ self baie aanklank vind.

PJ Pretorius en Felicity Monk sit in die bad met die opname van sy musiekvideo, 12 uit 10, terwyl die opnamespan om hul staan.

“Ek verstaan hoe dit voel om te dink jy is nie goed genoeg nie en om toe te laat dat ander jou waarde bepaal. “12 uit 10″ is die boodskap wat ek aan ander wil uitdra en waarmee ek mense wil motiveer om hul eie identiteit te omhels.”

Die video is by die Silver Fig Gastehuis in Pretoria deur Luther van der Watt van AVC Studios verfilm. Die model in die video is die aktrise Felicity Monk.

“Dit was taamlik vreemd om so gemaklik en normaal as moontlik te probeer optree, terwyl daar al hierdie ligte en mense om jou is.”

Die video verklap egter geen van hierdie ongemak nie en blyk dit asof PJ hierdie nuwe rol in sy lewe met oorgawe aanpak.

Intussen is PJ ook druk besig met vertonings en word hy landwyd reeds aangevra.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button