Local newsNews

Jayden Pieterse (2) ondergaan verskeie operasies, maar vog bou steeds in maag op

"Ons is so moeg, maar ons moet aangaan vir Jayden se onthalwe. My hart is stukkend om my baba so te sien.”

SECUNDA – Jayden Pieterse is nog nie eens drie jaar oud nie, maar het reeds verskeie noodoperasies ondergaan.

Dié seuntjie is in Februarie 2016 op 36 weke met ‘n keisersnit in die lewe gebring en het ‘n aantal weke in die neo-natale waakeenheid van die Mediclinic Highveld vertoef, voordat hy uit die hospitaal ontslaan is.

Mnr. Vic en me. Ame Pieterse met Jayden ná sy geboorte.

Vandag weeg hy skaars 11kg waar hy in die waakeenheid van die Parktown Hospitaal in Johannesburg lê.

Hy is uitgeteer en sy ogies sit diep in sy kop. Die groot sny oor sy magie en al die pypies wat deur die kleinding se lyfie kronkel, wys hoe swaar die vegtertjie eintlik kry.

Daar is ‘n dreineringspypie in sy maag om van die vog wat heeltyd daar opbou, ontslae te raak.

Volgens sy ma, me. Ame Pieterse, het Jayden se lewer seergekry toe ‘n voedingspypie destyds in die neo-natale-eenheid in sy naeltjie geplaas is.

“Ons het dit nie besef nie en het net gedink ons kind is maar siekerig omdat hy prematuur gebore is,” het sy verduidelik.

Jayden Pieterse in die Linksfield Hospitaal ná die “Rex Cyctemic shunt-operasie” op 29 Oktober.

Sy en haar man, Vic, het egter op 18 Junie die skok van hul lewens gekry toe klein Jayden skielik begin het om bloed op te bring.

“Ons het met hom na die hospitaal se ongevalle-eenheid gehaas waar hy gestabiliseer is en twee eenhede bloed ontvang het. Hy is daarna per ambulans na Kloof Hospitaal vervoer en in die waakeenheid opgeneem.”

Me. Pieterse het gesê dit is waar Jayden met Portale Hipertensie gediagnoseer is.

“Sy portale aar is seergemaak met geboorte toe hulle ‘n voedingspyp in sy naeltjie geplaas het. Dit het gelei tot lewerprobleme en ‘n vergrote milt van 12.5 cm.

“Jayden het op 29 Oktober ‘n “Rex Cyctemic shunt”-operasie ondergaan waar ‘n aar uit sy nek gebruik is en van sy milt na sy lewer geneem is om die portale aar te omseil.”

Dié operasie is in die Linksfield Hospitaal uitgevoer.

Jayden Pieterse in die Linksfield Hospitaal ná die “Rex Cyctemic shunt-operasie” op 29 Oktober.

Die Pieterse-egpaar was skaars tuis met hul seuntjie of sy magie was weer so groot soos ‘n bal opgeswel.

“Die vog het in sy maag begin opbou en hy moes twee keer in die hospitaal opgeneem word om dit te dreineer,” het me. Pieterse vertel.

Die kleuter het op Vrydag, 23 November, weer ‘n noodoperasie ondergaan om die vog te dreineer.

“Hy is steeds in die hospitaal en die vog word steeds gedreineer. Ons kan dit nie verduidelik nie. Ons kan net bid dat sy liggaam dit sal begin verwerk,” het me. Pieterse Maandag, 26 November oor die telefoon vanaf Parktown Hospitaal gesê.

“My kindjie is so verskriklik maer en benodig aanvullings, onder meer albumin-poeier.”

Die egpaar vat nie grond met al die mediese rekeninge en ander benodigdhede wat aangekoop moet word om hul enigste spruit te help nie.

“Ons het ‘n goeie mediese fonds, maar dit is nou al uitgeput. Ek moes ophou werk om voltyds na Jayden om te sien, so dit gaan regtig rampspoedig met ons. Ek bedel nie, ek vra net om hulp,” het me. Pieterse gesê, terwyl sy die trane afgesluk het.

“Ons is so moeg, maar ons moet aangaan vir Jayden se onthalwe. My hart is stukkend om my baba so te sien.”

‘n Bankrekening is in Jayden se naam geopen en sy oupa, mnr. Bertie Fourie, beheer die betalings van rekeninge en die aanvullings soos wat skenkings inkom.

Hy kan geskakel word by 082 924 0996.

Jayden Pieterse se magie swel op weens vog in sy buik.
Jayden Pieterse se magie swel op weens vog in sy buik.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button