Local newsNews

Flip de la Rosa se skielike dood laat ’n leemte in Ermelo

Daar was altyd tyd vir ’n grappie in die geselskap van mnr. de la Rosa en nooit ’n vervelige oomblik nie.

‘n Bekende inwoner van Ermelo, mnr. Flip de la Rosa, is Saterdagoggend, 1 Desember onverwags dood.

Hy is op 9 Maart 1960 in Bloemfontein gebore en het sy skoolloopbaan op Pietermaritzburg voltooi.

Hy en sy vrou is in 1980 in die huwelik bevestig en drie seuns is uit die huwelik gebore.

Hulle was tot en met 1998 in Piet Retief woonagtig, waarna hulle na Ermelo verhuis het.

Hy sal onthou word vir sy jarelange diens by OT Bande.

Mnr. De la Rosa en sy vrou, Priscilla, het in 1998 dié bekende bandewinkel geopen.

Sy vrou vertel dat min mense geglo het dat hy ‘n sukses van die onderneming sou maak, maar voeg by dat hy ‘n passie gehad het vir voertuie en nooit tou opgegooi het nie.

Een van sy werknemers wat die afgelope 20 jaar vir hom gewerk het, het hom as ‘n goeie werkgewer beskryf wat goed na sy mense gekyk het.

Mnr. Flip de la Rosa se trots is die onderneming wat hy die afgelope 20 jaar opgebou het. Die voertuie is deur mnr. De la Rosa opgebou en herstel.

Hy laat sy vrou, drie seuns en ses kleinkinders agter.

Terwyl die Hoëvelder met sy gesin gesels het, het een van sy kleindogters gevra of sy die blomme in die kantoor kan kry, waarna daar aan haar gesê is dat dit die kantoor se blomme is.

“My oupa sou gesê het ek mag dit kry,” was die donkerkop dogtertjie se antwoord.

“Dit som my pa behoorlik op, hy sou nooit nee gesê het vir sy kleinkinders nie. Hulle was sy lewe,” het sy seun mnr. George de la Rosa gesê.

Dit is duidelik aan al die grapperige stories oor die man, dat hy diep spore getrap het in die lewens van elke persoon wat sy pad gekruis het.

Sy seuns sal hom onthou as ‘n streng pa in die tye wanneer hulle aangejaag het, maar ook as die een wat bankvas agter hulle gestaan het.

“Hy was ‘n groot man met die kleinste hart. Hy was altyd bereid om ander te help.”

Sy vrou onthou dat hy nooit verby iemand gery het wat langs die pad gestrand was, sonder om sy hulp aan te bied nie.

Daar was altyd tyd vir ‘n grappie in die geselskap van mnr. De la Rosa en nooit ‘n vervelige oomblik nie.

Hy word deur een van sy vriende beskryf as ‘n opregte vriend wat altyd vriendelik was en altyd bereid was om ander te help.

“Ek gaan dit vreeslik mis as my foon vroeg in die oggende lui en ek sien dis “Uncle Flip” en hy vra ‘Frikkas waarvoor is jy lus, kerrie of iets lekkers om te eet?” het mnr. Frik Buskes hartseer vertel.

Sy gunsteling herinnering van mnr. de la Rosa is die naweke wat hulle saam langs die viswaters bestee het.

Een van sy ander vriende het vertel dat mnr. De la Rosa altyd vir hom skelm ‘n bier gebring het as hy buite in die tuin moes werk.

Sy begrafnis word Vrydag, 7 Desember om 11vm vanuit die N.G. Kerk De Bruin Park gehou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button