Local newsNewsSchools

Neels Ferreira groet Laerskool Goedehoop ná 40 jaar

Skoolhoof en vrou sien uit na rustiger leefstyl

SECUNDA – Mnr. Neels Ferreira (62), hoof van Laerskool Goedehoop, tree ná 40 jaar in die onderwys, af

Hy het die afgelope 22 jaar die skoene as hoof volgestaan en sy vrou, me. Elize Ferreira (58), het 11 jaar by Laerskool Goedehoop skoolgehou.

Die egpaar het wel gemengde gevoelens oor hul aftrede.

“Ons sien daarna uit om ‘n rustiger leefstyl te leef, meer te kamp en die hele land vol te reis, maar ons gaan die skool baie mis. Dit is al werk wat ons geken het,” het mnr. Ferreira gesê.

Hy en sy vrou het al menige kere die afgelope maand saam met die leerders oor hul weggaan gehuil.

Die egpaar het besluit om af te tree nadat me. Ferreira verlede jaar ’n stent in haar hoofslagaar moes kry omdat dit 80 persent verstop was.

“Dokters het in Oktober verlede jaar tydens haar ondersoek gesê sy sal nie Kersfees sien nie, so dit is ‘n wonderwerk dat die operasie goed afgeloop het en sy nog leef,” het mnr. Ferreira gesê.

Me. Ferreira is die afgelope 11 jaar die departementshoof van die grondslagfase by Laerskool Goedehoop en die afgelope vier jaar het sy vir leerders van die spesiale klas skoolgehou.

“Dit is heeltemal anders om vir hulle skool te gee teenoor gewone kinders. Ek is bly ek kon my loopbaan op ‘n hoë noot afsluit,” het me. Ferreira gesê.

Sy het lankal haar diploma verwerf om vir leerders met minimale breindisfunksie skool te hou en sy voel die Here het haar geroep om vir die afgelope vier jaar die taak aan te pak.

“Dié leerders se selfbeeld is dikwels baie laag en hulle soek eintlik net liefde,” het sy gesê.

“My hart is seer om vir dié leerders totsiens te sê omdat ek ongelooflik baie geleer terwyl ek vir hulle skoolgehou het.”

Sy en mnr. Ferreira sal in Desember hul 36ste huweliksherdenking vier.

Hulle het as kinders vyf huise van mekaar in Pretoria gewoon en saam in die straat gespeel.

“Hy was deel van die Vraagteken-bende en hulle het ons altyd getreiter,” het me. Ferreira geskerts.

Die egpaar het toe me. Ferreira in gr. 9 was, begin uitgaan en mnr. Ferreira is ná skool weermag toe. Daarna is hy onderwyskollege toe.

Hy het na sy studies vir ‘n jaar by ‘n skool in Kemptonpark gewerk vóór hy en me. Ferreira vir onderskeidelik sewe en 12 jaar by Laerskool Danie Malan in Pretoria skoolgehou het.

Hulle is later getroud en het na Secunda verhuis toe mnr. Ferreira ‘n pos as adjunkhoof by Laerskool Hoëveld aanvaar het.

By Laerskool Hoëveld het die egpaar lank skoolgehou waar me. Ferreira later as departementshoof aangestel is.

Sy was vir 17 jaar by Laerskool Hoëveld en mnr. Ferreira vir drie jaar, voordat hy Laerskool Hoëveld vir Laerskool Kruinpark verruil het. Hy was vir twee jaar die adjunkhoof en later waarnemende hoof.

Mnr. Ferreira het in April 1996 by Laerskool Goedehoop die leisels as hoof oorgeneem. Hy het sy werk terdeë geniet.

Die egpaar se dogter, me. Nelize Joubert, het onlangs ook by Laerskool Goedehoop begin werk as gr. 7 Afrikaanse onderwyser en hul kleinkind begin oor twee jaar by Laerskool Goedehoop Kleuterskool as gr. 00-leerder.

Een van die hoogtepunte van mnr. Ferreira se loopbaan was op sy verjaarsdag, 24 Augustus 1986, toe hy nog by Laerskool Danie Malan skoolgehou het en sy rugbyspan die bekende rugbyspeler, Naas Botha se rugbyspan geklop het en as Noord-Transvaalwenners uit die stryd getree het.

“Ek en Naas was saam op skool. Hy is twee jaar jonger as ek, maar hy was in ons rugbyspan,” het mnr. Ferreira gesê.

Botha het Laerskool Lynnwood se rugbyspan afgerig terwyl mnr. Ferreira die span van Laerskool Danie Malan afgerig het.

“Dit was ‘n wonderlike gevoel om die telbord te sien en daar staan: ‘Laerskool Danie Malan Noord-Transvaalwenners uit 95 laerskole’.”

Me. Ferreira het haar nasionale kleure as korfbalskeidsregter gekry.

Die egpaar sien daarna uit om meer tyd vir hulself te hê wanneer hul aftree en om meer tyd saam met hul kleinkind en die volgende een wat in Julie gebore sal word, te bestee.

‘n Tydkapsule in die vorm van ‘n kruis as nalatenskap by die skool, is deur mnr. Ferreira opgerig.

Leerders, ouers en enige iemand wat wou, kon briefies van dankbaarheid skryf wat in die tydkapsule toegemessel is.

Hulle wens vir Laerskool Goedehoop is om altyd, soos die skool se slagspreuk, Godgerig, Kindgerig en Toekomsgerig, sal bly.

Mnr. Neels en me. Elize Ferreira tree vanjaar af as onderskeidelik hoof en onderwyser by Laerskool Goedehoop.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button