Local newsNews

Annaretha Fourie leef elke dag voluit

Staproete met hoogste piek in Suid-Afrika is volgende op haar lysie

SECUNDA – Passievol en lewenslustig is woorde wat me. Annaretha Fourie goed beskryf.

Sy is die afgelope nege jaar ’n onderwyser by Marietjie Skool vir Leerders met Spesiale Onderwysbehoeftes.

Sy geniet haar werk en glo die Here het haar geroep om by dié skool te werk nadat sy vir jare by hoofstroomskole skoolgehou het.

Me. Fourie ken die pad van verlies nadat sy in 2009 haar man, mnr. Johnny Fourie, aan die dood afgestaan het.

Mnr. Fourie was ’n senior proseskontroleerder by Sasol en is dood toe hy in ’n seëlwatertenk geval en chemikalieë ingeasem het.

Sy vriend en kollega wat hom probeer help het, is ook dood.

Me. Fourie het nog altyd van sport en avontuur gehou en sy en wyle mnr. Fourie het kursusse gedoen om riviergidse te word wat groepe lei he op riviervlotvaarte (river rafting).

Hulle het gereeld as riviergidse op die Tugelarivier by Mfongos naby Kranskop in Zululand en op die Vaalrivier gewerk.

Hul seun, Euvian, het verlede jaar ook sy opleiding gedoen om ’n riviergids te word.

Me. Fourie en Euvian gaan nou gereeld Vaalrivier toe om as riviergidse te werk.

“Euvian is gewoonlik die een wat heel voor roei en voor die groep uitgaan om te kyk waar klippe of gevaarlike plekke in die rivier is. Ek is gewoonlik die veër (sweeper) wat heelagter roei met my kano en seker maak almal is veilig,” het me. Fourie gesê.

Sy is ’n provinsiale skole-netbalafrigter en haar netbalspanne het al drie goue medaljes, twee silwermedaljes en een bronsmedalje ingepalm.

Sy het selfs in haar studentejare vir die destydse Noordwes-netbalspan en die Suidoos-netbalspan gespeel.

Sy was ’n Springbokgimnas op skool en het in haar gr. 9-jaar aan die Wêreld Gimnastiekkampioenskap in Hawaii deelgeneem.

Me. Fourie het eers skolespanne afgerig en later ook provinsiale spanne begin afrig.

Sy rig tans Hoërskool Oosterland se 0/15- en eerste netbalspanne af.

Sy het in 2010 en 2011 as afrigter die Suid-Afrikaanse Netbalkampioenskap in onderskeidelik Rustenburg en Kaapstad bygewoon saam met die senior Mpumalanga Netbalspanne wat in 2010 ’n silwermedalje en in 2011 ’n goue medalje verower het.

Haar Mpumalanga 0/21-Netbalspan het in 2010 ’n silwermedalje by die Suid-Afrikaanse 0/21-netbaltoernooi verower.

Sy het op Hoedspruit grootgeword en in haar gr.11-jaar het haar ouers na Parys verhuis waar sy gematrikuleer het.

Sy het na skool mode-ontwerp aan die Vaaldriehoek Technikon studeer voordat sy onderwys op Potchefstroom gaan studeer het.

Me. Fourie het na haar studies na Secunda verhuis waar sy vir ’n jaar by Laerskool Secunda skoolgehou het.

Sy het Secunda vir Northam naby Thabazimbi verruil en vir ’n jaar op Northam skoolgehou voordat sy teruggetrek het na Secunda omdat sy haar kêrel, mnr. Johnny Fourie, te veel gemis het.

Terug op Secunda het sy vir vyf jaar vir Sasol se gemeenskapsontwikkelingsprojek gewerk waar sy kinders geleer het om Afrikaanse te praat, lees en skryf.

Sy het, toe die projek klaargemaak het, by Laerskool Goedehoop gewerk en dit later vir Hoërskool Secunda verruil waar sy vir 12 jaar Engels, toerisme en sportwetenskap gegee het.

Me. Fourie het by Hoërskool Secunda bedank na haar man se dood omdat, sy meer tyd met haar seun, wat toe net agt-jaar-oud was, wou bestee.

Die pas by Marietjie Skool is rustiger omdat daar nie so baie sport en buitemuurse aktiwiteite is soos by hoofstroomskole nie.

“Ek wou meer aandag aan Euvian gee omdat sy pa nie meer daar was nie,” het me. Fourie gesê.

“Ek het heel geword by Marietjieskool en ek is dankbaar teenoor die hoof, me. Mariane Uckermann, vir die kans om by die skool te werk en dat sy in my geglo het en my aangestel het.”

Me. Fourie het gesê dit was ’n aanpassing om van ’n hoofstroomskool na ’n skool vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes te gaan, maar dit is vir haar ’n baie vervullende werk.

Sy het tot onlangs die Highveld Flames-netbalspan afgerig in binnenshuise netbal en dié span het vroeër vanjaar na Kaapstad getoer om aan die ‘Cape Town 10s’-toernooi deel te neem.

Me. Fourie wil vroeg in die nuwe jaar die Highveld Flames Netbalklub weer op die been bring, maar sy wil dan fokus op buitelug netbal.

Sy is lief vir die natuur en volgende op haar ‘bucket list’ is om die Mafadi Staproete wat op die grens van Lesotho en Suid-Afrika is, te gaan stap.

Sy wil ook nog haar skubaduik-kursus doen.

Me. Fourie het al ’n kursus in “abseiling” gedoen en wil betrokke raak by die rotsklimklub op Secunda.

Sy en haar oorlede man het graag saam gedraf voordat Euvian gebore is en sy het al die Two Oseane-marathon in Kaapstad gedoen.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button