Local newsNews

Anton Fischer is ‘reg’ om af te tree

Mnr. Fischer het ook die bynaam ”umfundisi” (predikant) by die publiek verwerf wat hy met trots aanvaar as ’n erkenning van die uitleef van menswees.

Mnr. Anton Fischer, wat die voorste stoel in die plaaslike landdroskantoor beklee, se laaste werksdag is op 31 Desember.

Met ’n regsloopbaan wat vir Anton Murray Fischer as aanklaer in Pretoria begin het na suksesvolle afhandeling van sy B.Proc, sou die destydse Departement van Bantoesake se besluit om hom te verplaas, hom noop om sy pensioengeld te vat en sy beurs af te betaal.

Hy het by ’n gevestigde firma, ryk aan geskiedenis, sy leerklerkskap voltooi.

“Hulle het destyds Paul Kruger se boedel beredder,” het Anton onthou.

Die Fischers het op Standerton in die 80’s opgedaag waar hy by die destydse Van Heerden, Schoeman, De Ville en Boer aangesluit het voordat mnr. Paul Voormolen se praktyk van sy kundigheid gebruik gemaak het.

Ook het hy vir ’n ruk op sy eie gepraktiseer.

Die jaar 1989 het hy in die Val-omgewing geboer met onder meer melkkoeie, beeste en skape.

Mnr. Fischer het in 1991 op die buurdorpe Evander, Secunda en Leslie begin aankla en is in 1992 na Standerton as landdros bevorder.

Hy het vele herinneringe aan gebeure in die hof, hetsy komieklik of ernstig – maar deurgaans was dit menselewens wat beïnvloed was.

Hy was aanvanklik huiwerig om die interessantste hofverrigting te bespreek, maar die Willie Madisha-saak het hom bygeval.

Dié destydse president van Cosatu sou ’n vergadering op Standerton toespreek en verkeersbeamptes het die konvooi betrap toe hulle te vinnig gery het.

Verkeersbeamptes het geen genade betoon nie en hy moes in die hof verskyn.

Mnr. Madisha, nou Lid van die Parlement, het skuldig gepleit ten aanskoue van almal in die hof, met die verweer dat hy laat was vir ’n vergadering.

Nodeloos om te sê, was hy toe ’n bietjie later.

Mnr. Fischer en sy eggenoot, Amanda, het die vier kinders, Philip, tweeling Louise en Petra, en Rian se laer- en hoërskoolloopbane hier op Standerton beleef voordat hulle almal vort universiteit toe is.

Pa Anton se liefde vir sport kon hy saam met sy kinders beleef.

Geeneen van die spruite het egter die regte gekies nie en hulle nerings verskil hemelsbreed.

Philip is in die bosbourigting, Louise het haar bekwaam in opvoedkundige sielkunde, Petra bekwaam haarself in die sport-en-rekreasieveld, terwyl Rian konstruksiebestuur en spesifiek projekbestuur gekies het.

Mnr. Fischer het beklemtoon dat hy ’n sportentoesias is.

Hy het al drie Comrades Marathons afgelê en die nodige medaljes verwerf.

Ook is deelgeneem aan die Standerton Trapklub-wedrenne vir sowel pad- as bergfietswedrenne en hy neem gereeld aan die weeklikse parkrun deel.

Dan praat ’n mens nie eens van die bekende perde-uithourit op Fauresmith nie.

“My groot liefde is eintlik perde en ek geniet die interaksie tussen mens en dier.

“Uithouritte is ’n toets vir die perd en die mens, maar die hoogtepunt is die onderlinge samewerking.”

Lees die volledige berig in die Standerton Advertiser.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button