[VOLLEDIGE BERIG] Gemeenskap verseker bejaarde se terugkeer
Volgens me. Mariet Scheepers, sy skoondogter, het mnr. Scheepers se motor sonder brandstof gaan staan en ’n brandstofstrokie van R170 is in sy beursie gevind wat op Volksrust bestee is.
Die gemeenskap se samewerking het daartoe gelei dat mnr. Gert Scheepers (78) van Standerton op 11 Desember omstreeks 9.15nm op die Vrede-pad veilig opgespoor is.
Mnr. Scheepers, wat aan Alzheimer ly, het vroegoggend vermis geraak nadat hy aangedui het dat hy na ’n plaas in die Morgenzon-omgewing gaan.
In weerwil van die familie se soektog na hom, is die bejaarde nie gevind nie.
Standerton Reaksie se me. Elsabé Jordaan het die inligting gedeel op haar groep, waarna Kasselman Veiligheidsdienste (KVS) hul hulpbronne gebruik het om ’n soektog te loods.
Mnr. Scheepers se familie het ook met KVS in verbinding getree.
Die Standerton Advertiser het op hulle webtuiste kortliks inligting weergegee wat sy motorregistrasienommer ingesluit het.
Die AfriForum-tak op die dorp het ook sewe voertuie en een motorfiets beskikbaar gestel om die omliggende gebiede te fynkam.
Me. Jordaan en haar lede het ook gehelp soek, ’n plaaslike boer, mnr. Willie Griesel, se R44-helikopter was sowat 50 minute in die lug en mnr. Dawid Redelinghuys het ’n vliegtuig gereed gehad om bystand te bied.
Die Suid-Afrikaanse Ondersteuningsinisiatief se pamflette was gereed toe AfriForum hulle laat weet het van die goeie nuus.
Volgens me. Mariet Scheepers, sy skoondogter, het mnr. Scheepers se motor sonder brandstof gaan staan en ’n brandstofstrokie van R170 is in sy beursie gevind wat op Volksrust bestee is.
Een van mnr. Jandré Kasselman se vriende, wat op pad Durban toe was, het hom geskakel met die nuus dat hy mnr. Scheepers gesien het.
Die bejaarde het in die voertuig gebly totdat hulp opgedaag het.
’n Oorstelpte me. Scheepers het almal wat betrokke was om hom te kry, bedank.
“Almal kan nie by naam genoem word nie.
“As dit nie vir die gemeenskap was nie, weet ek nie.”



