Dawie du Preez van Laerskool JJ van der Merwe op Ermelo tree af na 42 jaar in die onderwys
“Dis my passie om skool te hou en as ek als weer kon oordoen sou ek beslis dit weer gedoen het.” het mnr. du Preez gesê.
Mnr. Dawie du Preez, van Laerskool JJ van der Merwe lê vanjaar die tuig neer na 42 jaar in die onderwys.
Hy het vanaf 1971 tot 1975 in Potchefstroom onderwys studeer, waarna hy in Januarie 1976 by Laerskool Ermelo sy onderwysloopbaan afgeskop het.
Mnr. Du Preez was vir ongeveer 31 jaar aan dié skool verbonde, waarna hy vir ’n jaar die skoolhoof by Kellysville Laerskool in Lydenburg was.
Hy het in 2008 by Laerskool JJ van der Merwe aangesluit, waar hy wiskunde vir graad vyf leerders aangebied het.
Van sy beste herinneringe by JJ is die samewerking van al die onderwysers en die verskil wat hy in die kinders se lewens kon maak.
“Dis my passie om skool te hou en as ek als weer kon oordoen, sou ek dit beslis weer gedoen het,” het mnr. Du Preez gesê.
Hy was ook betrokke by die rammetjie rugby-afrigting en het ook krieket afgerig, wat hy as veeleisend, maar tog baie lekker beskryf het.
Mnr. Du Preez was ook verantwoordelik vir die opvoedkundige toer vir die graad vyf leerders van JJ van der Merwe.
“Ek gaan defnitief die daaglikse interaksie met die kinders beslis die meeste mis.”
Sy tyd by Laerskool JJ van der Merwe beskryf mnr. Du Preez as vervullend en ’n hoogtepunt van sy lewe.
“Ek is dankbaar teenoor God vir my gesondheid dat dit vir my moontlik was om vir 42 jaar kon skoolhou.”
Sy boodskap aan elke leerder en onderwyser van JJ is om te onthou dat in stormagtige tye, wanneer jou boot soms wankel, om na die rustige waters te vaar.
Altyd die beste van ’n slegte saak te maak en altyd te onthou dat die Here in volkome beheer is.
“Ek wens vir elkeen voorspoed toe dat hulle kan voortbou op dit wat reeds by die skool opgebou is.”
Vir hom moet onderwysers altyd pligsgetrou en toegewyd wees aan die skool, maar meer belangrik aan die kinders.
Hy gaan hom nou toespits op sy vrou en kleinkinders, om die beste man en oupa te wees.
Die gesin beplan om op Ermelo aan te bly, maar wil baie reis. Hulle beplan ook om in die komende jaar oorsee te gaan.
Mnr. Du Preez sien uit daarna om sy passie vir tuine uit te leef en wil graag sy kwekery wat hy vanaf sy huis bedryf, uitbrei.
Hy het ook tuindienste in die dorp en lê graag tuine uit.
Hoewel mnr. Du Preez Laerskool JJ van der Merwe verlaat as ’n onderwyser, sal hy steeds as ’n JJ-oupa by die skool betrokke wees.




