
‘n Boer van Bethal, mnr. Daan Malan, was uit die veld geslaan gister toe ‘n ander boer wat by ken, by hom stop met 12 verse.
Dit kom nadat mnr. Malan verlede week 16 van sy melkbeeste verloor het toe diewe hulle op sy plaas langs die N17, lewend begin slag het.
Drie van die beeste het nog gelewe toe mnr. Malan op sy beeste afgekom het, maar hulle moes geskiet word omdat hulle te erg beseer was.
Mnr. Malan het gesê die boer het gister by sy plaas opgedaag met 12 verse.
“Hy het gehoor van my situasie en besluit om die beeste aan my te skenk, ” het mnr. Malan vertel.
“Ek was baie verras en uit die veld geslaan, met so ‘n gemeenskap om ons sal niks ons kan onderkry nie.”
Mnr. Malan glo die Here het aan hom teruggegee soos wat die Bybel lui in Johannes 10:10 dat die dief net gekom het om te steel, slag en verwoes, maar die Here lewe in oorvloed gee.
‘n Vriend het in ‘n stemopname mnr. Malan met dié vers bemoedig en gesê hy moet die Here vetrou dat Hy sewevoudig aan hom gaan teruggee.
“Ek het geweet God, wat my nog nooit teleurgestel het nie, sal voorsien in elke behoefte wat ek het en dat Hy sal herstel wat die dief gesteel het.
“Hier het Hy net weer sy getrouheid bewys deur ‘n ander boer wie se hart oop is.”

Also read:
https://www.citizen.co.za/ridge-times/129655/graphic-content-farmer-discovers-mass-slaughtering-cattle-bethal/



