Manda voltooi 42km New York Marathon
Volgens haar is Amerika ook ’n oneindige bron van verkenning, maar dit egter baie duur en moet jy jou reis en geldsake vooraf goed beplan.
SECUNDA – Me Manda Schoeman (30) is ’n avonturier in murg en been.
Dié petite jong krulkop skroom nie om ’n avontuur aan te pak nie – hetsy dit in die vorm van ’n nuwe onderneming, die verkenning van ’n vreemde land of aksiesport is.
As reisagent het sy die kans om gereeld in Suid-Afrika en ook oorsee te reis. Dis dan ook sommer ’n gulde geleentheid om aksie uit te soek.
Me. Schoeman se mees onlangse uitdaging was om aan die New York Marathon, die grootste wedloop ter wêreld deel te neem op 4 November verlede jaar.
Duisende mense neem jaarliks aan dié 42km-wedloop deel.
“Dié marathon is so groot, die atlete moet in sarsies wegspring. Die ondersteuning van die toeskouers is ongelooflik. Dit het soos een groot straatpartytjie gevoel. Bykans elke kilometer is daar ’n musiekkonsert aan die gang met orkeste wat optree. Die hele stad kom bykans tot stilstand om die atlete aan te moedig.”
Dié partytjiegevoel het volgens me. Schoeman, die afstand meer draaglik gemaak.
“Ek verkies eintlik 21km-afstande,” het sy verduidelik.
Van die aksie-avonture wat sy al aangepak het, sluit in skuba-duik, valskerm-spring en boomtop-safaris.
“Ek sal nog graag sneeu wil beleef, maar elke keer mis ek dit naelskraap.”
Me Schoeman meen die rykste kultuurervaring wat sy op haar reise beleef het, was in Griekeland, veral in die ou dele soos Athene waar sy al aan die geskiedkundige wedloop tussen Athene en die dorpie Marathon deelgeneem het.
“Dit is heerlik om met vreemde mense in vreemde lande oor hul kultuur, kos en bestaan te gesels. ’n Mens kan so baie leer, maar jy moet nie bang wees om met mense te praat nie.”
Volgens haar is Amerika ook ’n oneindige bron van verkenning, maar dit egter baie duur en moet jy jou reis en geldsake vooraf goed beplan.
Van die ander lande wat sy al besoek het, sluit in Israel, Jordanië, Egipte, Mauritius, Engeland en Wallis en Amerika.
Een van die plekke wat sy die meeste geniet het om te besoek, is Mosambiek.
“Ek hou van die ongereptheid van die lewe daar. Jy hoef nie ver te reis om daar te kom nie en die lewensbestaan is nie te duur nie. Om die volheid van Mosambiek te waardeer moet ’n mens nie vir luukshede soek nie.”
Me. Schoeman wou haar lewelank nog reis en verken. Sy het op skool in Lichtenburg daarvan gedroom om ’n lugwaadin te word.
Die lewe het egter ander draaie met haar geloop en me. Schoeman het verkoopsverteenwoordiger vir Nosa geword.
Toe haar broer, Johan, sy eie onderneming op Secunda begin het, het sy haar gewig kom bygooi en het hulle saam gewerk.
Vandag – ses jaar later – is die onderneming, EasySafe, gevestig en het dit al uitgekring na verskeie bykomende afdelings, onder meer die reisagentskap.
Me. Schoeman is ook ’n karige fotograaf en neem ook graag aan aksie-sportsoorte deel.
Sy het juis op die aksie-netbalbaan haar kêrel, mnr. Kenneth Kinghorn ontmoet.
Op die vraag oor watter plek sy baie graag nog sal wil besoek, is haar antwoord dadelik: “Brasilië is beslis op my bucket list.”







