SECUNDA – Me. Rosa Maia is dankbaar en glo die Here het haar genees van ‘n oorerflike siekte, Osteoartrose, wat haar ma ook gehad het.
Weens dié siekte kon sy vir vier jaar nie loop nie en was sy gedeeltelik verlam en bedlêend.
Me. Maia het geweet sy moet haar nek en rug laat opereer weens die siekte, maar het vir lank verskonings gesoek om nie vir die operasie te gaan nie en toe sy uiteindelik dokter toe is, moes hul noodoperasies op haar uitvoer.
Die herstelpad na die operasies het vier jaar geneem en sedert September kon sy eers weer sonder moeite loop en motor bestuur.
Dokters het aanvanklik gesê sy sou nie weer kon loop of haar troeteldiere versorg nie.
Sy was nog altyd lief vir diere en het verskeie troeteldiere wat apies en honde insluit, gehad.
“Die operasie en herstelproses was geestelik en emosioneel vir my ‘n baie groot uitdaging,” het me. Maia gesê.
“Ek moes vir 24 uur lank, elke dag net lê en na ‘n muur kyk na die operasie, want ek kon nie opstaan of loop nie. Ek moes ongelukkig my apies laat gaan want die dokter het gesê ek sou nie weer vir hulle kon sorg nie.”
Haar toestand het verlede jaar vererger en soms het sy so baie pyn verduur dat sy nie kon beweeg nie.
Me Maia is verlede jaar saam met ‘n vriendin na die Lighthouse Kerk toe op Secunda waar ‘n Amerikaanse prediker die Woord gebring het. Sy het tydens die diens se gebed vir die gemeente, genesing ontvang en is nou pynvry.
Haar man, met wie sy al bykans 34 jaar getroud is, mnr. Joaquim Maia, ken sy al sedert haar kinderdae.
“Hulle was my ouer sussie se bure en as ek tydens skoolvakansies by haar gaan kuier het, het ons saam albasters gespeel.
“Ons was van standard 3 af gekys.”
Hulle is later getroud en het na Secunda verhuis omdat mnr. Maia ‘n beter werksoffer gebied was.
Me. Maia het steeds in Pretoria gewerk, maar het besluit sy wil eerder ‘n tuisteskepper wees toe sy met haar dogter swanger raak.
Me. Maia is nie iemand wat lank kan stilsit nie. Toe haar dogtertjie ‘n paar maande oud was, het sy ‘n kleuterskool op Secunda gekoop.
Sy het onderwys deur die pos studeer. Hulle het die kleuterskool later verkoop en eerder ‘n nasorg-sentrum by haar huis begin.
Sy het kursusse gedoen om haarself te bemagtig toe haar seuntjie met ADHD gediagnoseer is en het selfs later spesiale remediëring vir verskeie kinders aangebied.
“Ek het die kinders so baie gemis toe ek die kleuterskool moes toemaak, en het besluit om maar die apies te kry.
Sy het sedert haar kinders op skool was, haar altyd oor hul maats ontferm veral na skool toe baie van hulle aan dwelms verslaaf geraak het.
“Ek het altyd in die nagte wakker gelê en gewonder of hulle kos en warm slaapplek het.
Me. Maia het na mense begin uitreik en gee nou gereeld kos vir behoeftiges.
“Ons deel uit waar ons weet nodig is.”
Sy het onlangs hande geneem met Secunda Angels en Secunda Gratis en Verniet. Me. Maia se volgende doelwit is om ‘n sopkombuis te begin. Sy kry tans baie navrae vir kos, maar nie so baie skenkings nie.
“Die welsynwerk wat ek doen, is ‘n offer vir God. Die geestelike brood is vir my belangriker as fisiese kos en klere.”
Me. Maia bid graag vir mense en het ook ‘n selgroep weekliks waar sy tans die kursus van Harvest Time Ministries, Emosionele Genesing, aanbied.
Sy het ook ‘n groep op Facebook, naamlik Secunda Hearts Givers. Lede van dié groep het in Januarie verskeie projekte geloods.
Een van dié projekte is ‘Adopt a Pensioner’ waar hulle pakkies aan pensiontrekkers en behoeftige huisgesinne skenk.
Dié pakkies kan kospakkies, toiletware-pakkies of pakkies wat skoonmaakprodukte bevat, wees.
Hulle het ook die ‘Adopt a Baby’-projek waar gesinne met baba’s ondersteun word en pakkies aan die gesinne geskenk word.
Skakel me. Maia by 084 299 8657.



