Theo mors nie tyd na selfverwesenliking
Theo moes mooi begin tel om die aantal diere aan huis weer te gee, maar vyf Pekinese, een pug en twee katte het die eindtotaal laat klop.
Of Theo Schönfeldt nou strekoefeninge doen voor die weeklikse parkrun, sy kitaar instem voor ’n lofprysing, of ’n groot pot pasta aan die kook kry, sy entoesiasme is ’n gegewe.
Theo het in Maart verlede jaar erns van die saak gemaak om te begin oefen en het op 12 Januarie kon spog met ’n persoonlike beste tyd van 23 min 43 sek in die 5km by die Standerton Rivierpark.
Hoewel hy nooit ernstig gehardloop het nie, tel “roller blade”-hokkie onder sy prestasies.
Hy het aan Hoërskool Ermelo in 1994 gematrikuleer en onthou hoe die skool destyds vir ’n week gesluit is met die aanloop tot Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing.
Die Schönfeldts bly op Standerton sedert verlede jaar en Theo pendel Maandae en Vrydae tussen die dorp en Ermelo om sy verpligtinge by die Mpumalanga Veeartsenydienste na te kom.
“’n Oorplasing is in die pyplyn,” het hy laat blyk.
Dié beheertegnikus het ’n nasionale diploma in dieregesondheid sowel as ’n nasionale diploma in landbouvoorligting verwerf en het as realis erken dat boere ’n magdom balle in die lug moet balanseer.
“Landbou is nie kinderspeletjies nie.”
Lees die volledige berig in die Standerton Advertiser.



