SECUNDA – Mnr. Ricardo Jonker (27) is onlangs as die nuwe voorsitter van AfriForum se Jeugtak op Secunda verkies.
Hy is al vir ‘n jaar betrokke by AfriForum en wil hê die jeug-tak moet nog meer projekte aanpak.
Dié tak het reeds verlede jaar verskeie volhoubare projekte aangepak onder andere die uitverf en opgradering van ‘n woonstel wat by Davieshof gebrand het.
Mnr. Jonker se beplanning vir die jaar sluit in om maandeliks een woonstel by Davieshof uit te verf.
Hy het op Secunda grootgeword en na skool eers sy N1 en N2-kursusse in wetenskap probeer voltooi, maar moes dit opsy sit omdat hy werk gekry het.
In Pretoria en Johannesburg het hy as drywer in die operasionele afdeling gewerk voordat hy weer terug verhuis het na sy geboortedorp, Secunda.
Hy werk tans vir ‘n Sasol-kontrakteur.
Mnr. Jonker het nie veel geweet van AfriForum nie totdat die vorige voorsitter, met wie hy bevriend is, hom meer vertel het van dié organisasie. Hoofsaaklik die buurtwag.
Hy het eers by AfriForum Buurtwag betrokke geraak en later by die jeug-tak.
AfriForum se jeugtak het verlede jaar ondersteuning gebied by verskeie geldinsamelingsgeleenthede van die nie-winsgewende diere-organisasie, Little Paws Big Hearts (LPBH).
Mnr. Jonker se droom vir die jeug-tak is om lede op elke dorp te hê wat die gemeenskap dien. Dit sluit in Secunda, Evander, Kinross en Trichardt.
“Die gemeenskap moet sien dié AfriForum Jeug-tak gee om,” het mnr. Jonker gesê.
“My doelwit is dat meer mense betrokke raak want ons wil meer mense ondersteun en bystaan.
“Ons is hier om die gemeenskap op te bou.”
Hy is getroud met me. Nandi Jonker en vergesel haar graag wanneer sy gaan hengel.
Hy sal wel soms ‘n visstok in sy hande neem, maar geniet dit om eerder langs die viswaters te kuier.
Die egpaar kyk ook gereeld saam flieks of speel speletjies op hul X-Box.
Vir meer inligting, of om by die AfriForum Jeug-tak betrokke te raak, skakel mnr. Jonker by 071 400 4129.



