Hanco Meyer, gebore op 25 weke en vyf dae, het ’n skrale 810g geweeg
“My eerste gedagtes was waar gaan ek vir hom klere kry wat hom gaan pas en gaan hy ooit in sy klere pas.”
“Die dokter wys vir my iets wat soos ‘n mensie lyk onder die lakens, en ek besef dat my seuntjie ‘okay’ is.”
Dit was die eerste gedagtes van me. Michelle Meyer nadat haar seun, Hanco op 25 weke en vyf dae met ‘n noodkeiser gebore is.
Sy het van die begin af ‘n hoë risiko swangerskap gehad, en is op 21 weke in Mediclinic Nelspruit opgeneem en op streng bedrus geplaas.
Net kort van vyf weke op bedrus het haar vrugwater begin lek, tot so mate dat die dokters nie langer wou wag nie.
Haar dokters het haar ingelig dat Hanco se kanse vir oorlewing beter buite as binne is en daar was nie kans vir redenereer nie.
“Ons en almal wat ons ken het begin bid vir lewensvatbaarheid op 25 weke en vyf dae, en nie 28 weke soos dit gewoonlik is nie,” het me. Meyer aan die Hoëvelder vertel.
Met die tyd wat nader stap het alles vir die Meyer-egpaar in die wagarea van die teater ‘n realiteit geword.
“Ons het vermoed dat hy 900g sal weeg, maar die pediater het gesê dat ons, ons moet regmaak vir 700g omdat die vrugwater baie min was.”

Die pediater het die egpaar voorberei op hoe klein hulle seun sal wees, die volgende stappe, en het die risiko’s wat vir die kleinding voorlê aan hulle verduidelik.
“Die risiko van dood het swaar op ons harte gelê en net daar het ons besef dat dit ‘n gejaag is na ‘n kleine lyfie wat ons dalk nie gaan kan vashou nie.”
Klein Hanco is Vrydag, 30 November om 12.20nm gebore en het ‘n skrale 810g geweeg.
Die egpaar het egter eers na 6nm hulle nuweling vir die eerste gesien en besef hoe klein hy werklik is.
“My eerste gedagtes was waar gaan ek vir hom klere kry wat hom gaan pas en gaan hy ooit in sy klere pas.”
Die pad van prematuriteit beskryf me. Meyer as een van die hardste paaie is wat sy en haar man, mnr. Anton Meyer al ooit gestap het.
Vir die eerste keer besef die ouerpaar dat ‘n mens goeie nuus, slegte nuus en weer goeie nuus op die dieselfde dag kan ontvang.
Een van die grootste wonderwerke van Hanco is dat waar prematuur-babas geneig is om met oop hartkamers gebore te word, is syne reeds toe en daar was geen abnormaliteite met sy hartjie nie.
Sy het na 39 dae vir die eerste keer die kans gehad om haar seuntjie vas te hou.
“Net daar het ek besef dat al die moeilike dae die moeite werd is. Ek sal aanhou glo, aanhou bid en aanhou vertrou.”
Oor die pad wat vir hom voorlê, sê sy ma dat hulle dit dag vir dag vat, maar die belangrikste nou is vir die kleinding om vet te word.
Klein Hanco is vandag amper nege weke oud en sy het besef dat sy nou eers 35 weke swanger sou wees.
“Die Here is só groot, sommige mammas gee Hy die geleentheid om hulle babas binne hulle te laat groei, en vir ander gee Hy ‘n meer spesiale geleentheid om self te sien hoe hy groei, ” het een van me. Meyer se vriendinne gesê.
Die kleinding weeg tans 1.254kg en sy ouers se harte bars van trots oor hul seun wat elke dag alle verwagtinge oortref.
Lees ook:
https://highvelder.co.za/73972/jp-putter-van-ermelo-gebore-met-n-gesplete-lip-en-verhemelte/



