Local newsNews

Marise Moolman is nuwe bemarker by Hoërskool Secunda

Sy het 10 maande gelede na Secunda verhuis en bied steeds hier Pilates-klasse aan

SECUNDA – Me. Marise Moolman (31) is onlangs as die nuwe bemarkingsbeampte by Hoërskool Secunda aangestel.

Me. Moolman het in Johannesburg grootgeword en het na skool aan die Universiteit van Pretoria studeer vir ‘n graad in bemarking.

Sy het ná haar studies die modewêreld in Johannesburg betree en vir verskeie groot handelsname, wat Busby insluit, gewerk.

Sy het as bestuurder gewerk en ook met aankope gehelp voordat sy dié wêreld vir die televisie sepie “Binnelanders” verruil het.

Sy het vir twee jaar in die televisiebedryf gewerk waar sy verantwoordelik was vir die akteurs se kleredrag.

Me. Moolman het dié werk baie geniet en gesê sy het baie daar geleer.

Sy is ook ‘n gekwalifiseerde Pilates-instrukteur en het later die stel van Binnelanders verruil om voltyds Pilates-klasse aan te bied.

Sy het daarna haar eie Pilates-ateljee oopgemaak en baie met professionele atlete gewerk.

Sy het 10 maande gelede na Secunda verhuis en bied steeds hier Pilates-klasse in die oggende en laatmiddae aan.

Me. Moolman was lus vir ‘n nuwe uitdaging en het naas die Pilates-klasse nog iets gesoek toe die pos as bemarker by Hoërskool Secunda beskikbaar geraak het.

‘n Vriendin het haar aangeraai om aansoek te doen en me. Moolman geniet nou dié nuwe uitdaging.

“Ek het nog nie in ‘n skoolomgewing gewerk nie, nog net vir groot ondernemings en produksiemaatskappye,” het me. Moolman gesê.

Sy meen Secunda het ‘n stadiger lewenspas as die stad en sy geniet die rustiger leefstyl.

As sy nie by die skool is of Pilates-klasse aanbied nie, draf sy graag of doen joga.

Sy hou daarvan om aktief te wees en ry graag fiets oor naweke.

Me. Moolman geniet dit om te kook en om tuin te maak en gebruik gereeld groente vanuit haar eie tuin.

Me. Marise Moolman is onlangs as Hoërskool Secunda se nuwe bemarker aangestel.

Related Articles

 
Back to top button