Local newsNews

Secunda fietsryer sterk aan ná ’n bakkie hom in Desember getrap het

Hierdie was die tweede keer wat mnr. Viktor op sy fiets raakgery is sedert hy drie en ’n half jaar gelede begin fietsry het.

SECUNDA – Mnr. Zach Viktor het gewonder wat alles in sy seer lyf gebreek is, daar waar hy langs die teerpad op sy rug in die veld gelê het.

“Ek onthou hoe ek en die fiets deur die lug getrek het. My voet het in die pedaal vasgesit,” het mnr. Viktor verlede Donderdag vertel van die dag, 16 Desember, toe hy naby die Secunda-asgate raakgery is.

Mnr. Viktor het die oggend oudergewoonte met sy padfiets die pad verby die asgate en Trichardt Crushers in die rigting van die myne gaan ry. Dit was met die terugkomslag dat ‘n bakkie hom van agter getref het.

“Ek het dadelik besef ek is raakgery. Gelukkig was daar ‘n ander fietsryer en ook me. Alma Nortjé wat agter my in haar voertuig was en als gesien het.

Mnr. Viktor se regterhand en regtervoet is in die ongeluk beseer.

Sy regterduim is op twee plekke gebreek en hy moes spesialis-chirurgie ondergaan om die duim te herstel. Penne is ook ingeplant.

Hy het steeds nie volle gebruik van die hand nie, maar dit gaan al beter.

X-strale wys dat mnr.Viktor se regter hakskeen op verskeie plekke gebreek is.

“Die chirurg het gesê dit sou verskeie operasies en maande se herstel verg voordat ek weer daarop sou kon trap.”

Volgens mnr. Viktor was sy voet baie geswel en vol ou bloed en moes hulle eers gewag het dat die swelling sak, voor enige operasie uitgevoer kon word.

’n X-straal van mnr. Zach Viktor se regter hakskeen wys waar dit oral gebreek het.

Die dokter en hy was baie verbaas toe daar in Januarie weer na die voet gekyk is en hulle gesien het dat die gebreekte dele in die hak vanself weer bymekaar ingeskuif het.

“Die dokter het gesê my voet herstel homself, maar ek glo dit was ‘n wonderwerk.

“Die multi-operasies waarop die dokter ons voorberei het, is nou net een wat nog uitgevoer moet word.”

Mnr. Viktor was sowat ‘n week in die hospitaal en het daarna by die huis aangesterk. Hy was vir lank in ‘n rolstoel en gebruik tans krukke terwyl sy voet in ‘n moon boot is.

Dié korttermyn-versekeringsmakelaar het sowat twee weke gelede weer begin bestuur. Hiervoor verruil hy die moon boot vir ‘n sportstekkie.

“Ek glo daar is nog heelwat weefselbeserings wat stadigaan herstel, maar ek is ‘n gelowige man en ek bid vir volkome genesing.”

Mnr. Viktor het die mense wat hom deur alles ondersteun het, bedank.

“Ek wil my vrou, Annette, vir Shayne van der Heever van Langamed, die personeel van Medi-Clinic Highveld en vir Alma en Jaco Nortjé bedank.

“Ek wil ook in besonder vir Kosie van der Merwe bedank vir sy hulp. Hy het elke dag toe ek in die rolstoel was, my by my huis kom oplaai en by die werk afgelaai, en in die agtermiddag het hy my weer huistoe geneem. “

Hierdie was die tweede keer dat mnr. Viktor op sy fiets raakgery is sedert hy drie en ‘n half jaar gelede begin fietsry het. Die eerste keer het ‘n vragmotor hom per ongeluk liggies gestamp.

Mnr. Viktor meen egter hy sal nie vrees nie en sal weer op die fiets klim. Hoewel sy duurste fiets van R35 000 in die slag gebly het met die ongeluk in Desember, het hy darem ook ‘n ander fiets.

Hy maan ander fietsryers om versigtig te wees en motoriste om meer bedagsaam en oplettend te wees.

Mnr. Zach Viktor kom nou met krukke oor die weg.
’n X-straal van mnr. Zach Viktor se regter hakskeen wys waar dit oral gebreek het.

 

Related Articles

 
Back to top button