Local newsNews

Logan Dyssel (5) kan ná koglea-inplanting steeds nie praat nie

Me. Solomon gaan op 27 April ’n geleentheid by Mynland hou met plaaslike kunstenaars en stalletjies om geld vir Logan in te samel, maar sy benodig nog borge vir pryse.

TRICHARDT – Sedert sy koglea-inplantings sowat twee jaar gelede, toon klein Logan Dyssel (5), nie die vordering waarop almal gehoop het nie.

Hoewel hy nou al kan loop, wat volgens sy ouma, me. Pippa Solomon, ‘n wonderwerk opsigself is, praat Logan steeds geen woord nie.

“Dit is asof hy steeds doof is en hy in sy eie wêreld leef,” het me. Solomon vertel.

Hoewel Logan saam met sy ouers, mnr. Jaco en me. Sammy Dyssel, en twee boeties, Zayden (7) en George (3), op Steelpoort woon, is hy gereeld by sy ouma op Trichardt waar sy haar ouers in hul karige huisie by die Trichardtsfonteindam versorg.

“Soveel mense hier ken vir Logan en sy spontane liefde vir mense. Hoewel hy nie kan praat nie, probeer hy steeds op sy manier met ander kommunikeer,” het me. Solomon vertel.

Dié blonde seuntjie met so groot oopmond-glimlag was van geboorte af ‘n wonderwerk-kind.

Logan Dyssel is vyf jaar-oud maar is byna kleiner as sy baba-boetie George (3).

Hy is in 2013 met die naelstring om sy nekkie gebore, maar het oorleef.

Logan het ‘n reuse hartoperasie ondergaan toe hy slegs sewe maande oud was en het daarna verskeie ander operasies ook gehad.

Hy het ook drie beroertes oorleef. Logan is doof en kan nie praat nie. Hy het breinskade en het op die ouderdom van drie jaar nog nie geloop nie.

“Die Here het sy handjie vasgehou en vandag loop hy,” het me. Solomon getuig.

Sy het in 2016 met ‘n groot bewusmakingsveldtog begin om geld in te samel om vir koglea-inplantings vir Logan te betaal.

“Dié inplantings sou help dat hy kan hoor en naderhand begin praat, maar dis nou twee jaar later en hy toon geen vordering nie,” het me. Solomon tussen haar trane deur vertel.

Dit breek haar hart dat haar liefling-kleinkind so swaar kry.

Logan het op 4 Februarie weer die oorspesialis gesien en daar is ‘n breinskandering gedoen, maar me. Solomon kan net nie berus by die uitslag hiervan nie.

“Die dokter het gesê Logan se breintjie het nie gevorm soos ander mense s’n nie, en die hoof-ventrikels van die brein is vergroot en vol vog.

“Ons is gesê dat dit normaal is, maar dit kan tog nie wees nie?”

Me. Solomon en haar dogter en skoonseun het nou besluit dat Logan eerder deur ‘n neuroloog ondersoek moet word vir ‘n tweede opinie.

Klein Logan Dyssel kan steeds nie praat nie.

Dié ouma is weer vuur en vlam met ‘n projek om Logan en sy ouers te help.

Pappa Jaco werk op ‘n myn en sy mamma moet tuisbly om Logan en sy boeties te versorg.

‘n Trust is wel destyds gestig om Logan se ore te dek, maar dit betaal geen ander uitgawes, soos opvoedkundige speelgoed, vervoer en die doeke wat Logan steeds dra nie.

“My kinders sukkel om kop bo water te hou en Logan het soveel bykomende dinge nodig. Hy sien ook ‘n spraakterapeut,” het me. Solomon verduidelik.

Sy beplan dus weer ‘n dag in die Secunda-omgewing om vir Logan geld in te samel.

“Ons gaan op 27 April ‘n geleentheid by Mynland hou met plaaslike kunstenaars en stalletjies, maar ek benodig nog borge vir pryse.

“Ek vra sakelui, motorfietsklubs en die publiek se ondersteuning.”

Die welsynsorganisasie, Secunda Gratis en Verniet, het ook ‘n skaap wat hulle gaan uitloot. Hulle kan geskakel word by 066 279 6069.

Die wenner sal op 27 April bekend gemaak word.

Enigeen wat die Dyssels wil ondersteun of by die geldinsamelingsdag betrokke wil raak, kan vir me. Solomon skakel by 073 689 8896.

Kyk ook:

https://www.citizen.co.za/ridge-times/66467/little-logans-story/

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button