CrimeNews

Noodoperasie hou Jaco Jordaan uit die hof

Jordaan was nie in die hof nie, want hy het drie dae van te vore ’n noodoperasie ondergaan

SECUNDA – Mnr. Jaco Jordaan, ‘n Heidelbergse-sakeman wat van meer as R100-miljoen se beleggingsbedrog verdink word, se saak is op Vrydag, 15 Maart na die Evander Streekhof oorgeplaas.

Mnr. Jordaan se regslui, die aanklaer, en die landdros, het op 22 Julie as die nuwe datum besluit.

Mnr. Jordaan was nie self in die hof teenwoordig nie.

Sy verteenwoordiger, mnr. Herculus Viljoen het aan die hof verduidelik dat mnr. Jordaan opgeneem is in ‘n hospitaal in Springs weens ‘n dringende galblaasoperasie.

Mnr. Jordaan is op Dinsdag, 12 Maart geopereer.

‘n Polisieman het Vrydag na die hospitaal gery om te bevestig dat mnr. Jordaan wel siek is.

Die hofsaal was weereens met mnr. Jordaan se beweerde slagoffers volgepak.

Heelwat mense vanuit Kriel is bejaarde pensioentrekkers of mense wat ongeskik vir werk verklaar is.

Hulle het hul hele pensioen by mnr. Jordaan se onderneming, Stocktraders SA, belê.

Die beleggers het verwag om groot bedrae rente per maand te ontvang.

Sommiges het inderdaad miljoene belê.

Dit het glo vir jare goed gegaan totdat die maandelikse uitbetalings in September 2017 opgedroog het.

‘n Belegger wat lont geruik het, het by sy prokureur, mnr. Lourens Grundlingh, gaan kla.

Mnr. Jordaan word daarvan aangekla dat hy meer as 100 mense vanuit Kriel en Secunda uit hul spaargeld bedrieg het in ‘n multi-miljoen rand beleggingskema.

Die polisie glo moontlik dat die ‘n grootskaalse ponzi-stelsel mag wees.

Mnr. Jordaan is ‘n jaar gelede deur speurders van Secunda en Kriel by Germiston-polisiekantore in hegtenis geneem waar hy probeer het om sy skootrekenaar en persoonlike eiendom terug te kry.

Dié was in die polisie se kluis terwyl mnr. Jordaan tyd in die polisieselle daar deurgebring het weens ‘n ander soortgelyke dossier wat reeds in 2012 in Gauteng teen hom geopen is.

Die polisie se handelmisdaadeenheid het die ondersoek oorgeneem.

Mnr. Jordaan is uit op borgtog van R50 000 en moet teen sy volgende verskyning ‘n doktersbrief indien oor hoekom hy die hofsaak misgeloop het.

Lees ook:

https://www.citizen.co.za/ridge-times/123105/jaco-jordaan-weer-hegtenis-geneem-toe-hy-hof-op-secunda-uitstap/

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button