AfriForum Bethal pak nuwe projekte aan en onderhou huidige projekte
Ondersteun organisasie en verbeter dorp
BETHAL – AfriForum het Dinsdagaand, 16 April sakelui by Grasslands op Bethal toegespreek deur ‘n oorsig te gee van hul projekte wat hulle verlede jaar en vanjaar aangepak het.
Mnr. Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld, het die verwelkoming gedoen en mnr. Eugene Hartman, ondervoorsitter van AfriForum se Bethal-tak, het oor die projekte gepraat.
AfriForum se projekte van verlede jaar en vanjaar sluit in die herstel van slaggate in verskeie strate op Bethal, die skoonmaak van Gedenkplein, hulp met die vullisverwyderingskrisis verlede Maart, die plant van bome by verskeie plekke op Bethal en die aanbring van asblikke voor verskeie ondernemings.
“AfriForum het in April en Mei verlede jaar slaggate herstel in samewerking met Heritage Properties en het ook ‘n gat herstel nadat die munisipaliteit dit oopgegrou het om ‘n pyp te herstel en nie weer geteer het nie,” het mnr. Hartman gesê.
“‘n Tekort aan asblikke voor ondernemings is verlede jaar geïdentifiseer en ons het begin met die asblik-projek.”
AfriForum het verlede jaar 14 asblikke in die boonste deel van die dorp geplaas in ‘n poging om die rommel wat in die dorp gestrooi word, te bekamp.
“Ons kan nou sê die projek met die asblikke werk,” het mnr. Bekker gesê.
In fase 2 van dié projek gaan ‘n ander soort asblik gebruik word wat van plastiek gemaak is en ook ‘n deksel op het wat die reën sal uithou.
Sakelui wat dié projek wil ondersteun, kan ‘n eenmalige bedrag betaal om die asblik te laat aanbring en dan ‘n maandelikse bedrag om die asblik skoon en in stand te hou.
Die onderneming se naam en besonderhede sal ook op die asblik aangebirng word.
AfriForum het bome by die polisiestasie geplant asook by Wonderland Kleuterskool, die park in Golden Raylaan, Bethal Independent Primary School en Palmoord Ouetehuis.
Hulle het in Januarie ingegryp toe groot dele van die dorp sonder water was en het in samewerking met die Bethal Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) borge vir watertenks gekry en gehelp om water aan inwoners te voorsien.
Van die projekte wat AfriForum vir die res van vanjaar beplan, sluit in om die straatname oor te verf en weer duidelik te maak, voort te gaan met die asblik-projek, die kragboks-projek, die begraafplaas se skoonmaak-projek, die boomplant-projek, die blou- en groen druppel-projek waar AfriForum water toets om te kyk of dit voldoende is vir menslike gebruik, om ‘n nuwe venster aan te bring by Bethal Polisiestasie en hul slaggat-projek.
Me. Marilé Nieuwoudt van AfriForum se Bethal-tak se bestuur, het oor hul projek by Palmoord Ouetehuis gepraat en gesê hulle benodig sowat R35 000 om die badkamers by die tehuis op te knap.
“Die wasbakke en toilette is vir laerskoolkinders en ons wil dit graag vir die bejaardes hoër maak en nuwe spieëls aanbring en teël,” het me. Nieuwoudt gesê.
“Daar is baie projekte by die tehuis, maar ons wil met die badkamers begin.”
AfriForum wil dié projek in samewerking met Helpende Hand aanpak.
Mnr. Bekker het gesê as Helpende Hand se Bethal-tak nog vier lede kan kry, gee hul hoofkantoor R10 000 om dié projek mee te begin.
Hy het sakelui aangemoedig om by Helpende Hand aan te sluit.
Mnr. Morné Mostert, hoof van AfriForum se afdeling vir plaaslike regering, het met sakelui oor dienslewering onder andere gepraat.
“As jy dink dinge gaan verander of verbeter na die verkiesing, maak jy ‘n fout,” het mnr. Mostert gesê.
“As die regering nie die vermoë het om dorpe in stand te hou en dienste te lewer nie, dan begin dit by ons.
“Ons moet dan begin verantwoordelikheid neem van ons dorpe en dit verbeter. As die gemeenskappe van dorpe self dinge kan bestuur, kan hulle mettertyd by ‘n punt kom waar hulle nie meer die regering nodig het of hulle regmatig hoef te betaal vir dienste nie.”
AfriForum wil saam met die regering of plaaslike munisipaliteite werk en probeer eers samewerking van munisipaliteite kry voordat hulle self inspring.
Mnr. Corné Cronjé van AfriForum se hoofkantoor, het gesê as sakelui AfriForum ondersteun, kan hul volhou met projekte om die dorp te verbeter.



