AfriForum, Trichardt GPF en ondernemings ondersteun slaggat projek
Voorsitter bedank ondernemings en gemeenskap vir donasies en ondersteuning
TRICHARDT – Lede en ondersteuners van AfriForum se Secunda-tak, Trichardt Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en werkers verskaf deur verskeie ondernemings op Trichardt, het op Saterdag, 4 Mei ingespring en slaggate op Trichardt herstel.
Hulle het ook ‘n slaggat by die spoedhobbel in Trichardtweg, herstel.
Die span het 120 sakkies teer gebruik en het die gemeenskap versoek om hul petisie om die vragmotors uit die dorp te kry, te ondersteun.
Mnr. Clarke van der Walt, voorsitter van Trichardt GPF, gaan die petisie op Trichardt versprei.
Mnr. Jan du Plessis, voorsitter van AfriForum se tak op Secunda, het gesê hulle beplan om ‘n vierrigting-stopstraat op die hoek van Rapportryer- en Greystraat aan te bring en mense wat ten gunste van dié projek is, moet hom of mnr. Van der Walt skakel.
Mnr. Du Plessis het inwoners wat by die slaggatprojek betrokke wil raak, aangemoedig om Cajees op Trichardt te besoek omdat die eienaar van Cajees die skenkings hanteer en dit in AfriForum se rekening inbetaal.
“Daar word boek gehou van elke sent wat inkom en uitgaan,” het mnr. Du Plessis gesê.
“As mense wat wil help nie self daar kan wees op die dae wat ons slaggate herstel nie, kan hulle hul werkers ook vir die dag beskikbaar stel, ons sien dit dan ook as ‘n skenking.”
Hy het gesê belangstellendes kan ook kos of koeldrank borg op die dae wat AfriForum ondersteuners aan die paaie werk.
Hy het almal, elke individu en onderneming wat die projek ondersteun en gehelp het of iets geborg het, bedank.



