Vidette en Mariska reik uit om Bethal se DBV te help
Werk by nie-winsgewende diere welsynsorganisasie vorder goed
BETHAL – Twee vriendinne, me. Vidette van Niekerk en me. Mariska de Vries, het onlangs begin met ‘n nuwe langtermyn projek om Bethal DBV op te knap.
Me. Van Niekerk het gesê sy en me. De Vries het op Facebook gesien die DBV vra vir kos en het toe vir hulle kos geneem.
Met hul besoek het hulle gesien hoe dit by Bethal DBV lyk.
“Dit was vir ons hartseer om die toestand van Bethal DBV te sien en ons het besluit om hulle te help om die plek bietjie op te knap en mooi te maak,” het me. Van Niekerk gesê.
Die twee vroue het ‘n maand gelede begin om die dak en mure te verf, en gehelp om die hokke skoon te maak.
Hulle is nie bang vir tuinwerk nie en het ook ingespring by die tuin en gras gesny.
Hulle bestee tans elke Woensdag en Saterdag tyd by die DBV en doen nie net opknappingswerk nie, maar neem ook die honde om te stap en bestee tyd saam hulle.
“Ons wil die DBV meer aanloklik maak vir die publiek en vir borge,” het me. Van Niekerk gesê.
Van die dinge wat dié twee vroue vir die DBV beplan, is om een van die vertrekke se teëls te vervang en om ‘n isolasie-kombers op die dak van die een vertrek te plaas omdat dié vertrek so warm word dat die hondekos wat daar gebêre word, weens die hitte miet kry.
Die vroue het reeds genoeg verf om die binnemure van die DBV klaar te verf, maar hulle soek nog borge van ‘n tuindiens wat op ‘n twee-weeklikse basis die gras by die DBV kan sny, asook teëlgom, sement vir die teëls, Jeyes Fluid-skoonmaakmiddels, hondesjampoe, katsand- en bokse, komberse, tuingereedskap, verf om die buitemure mee te verf, ‘n wendyhuis of plek om die tuingereedskap in te stoor en nagemaakte gras om op sekere plekke by die DBV aan te bring.
Dié twee vriendinne is voltydse huisvroue, maar in hul vrye tyd geniet me. Van Niekerk om te swem of in die tuin te werk, terwyl me. De Vries graag skilder en al van haar skilderye verkoop het.
Me. Laurna Coetzer, inspekteur by Bethal DBV, het gesê dié organisasie kort ook dringend geld om lopende uitgawes soos water- en elektrisiteit, salarisse, brandstof, telefoonrekeninge ensovoorts te betaal.
Belangstellendes kan haar by 072 573 3122 skakel om ‘n donasie te maak of om die DBV op ‘n gereelde basis te ondersteun.
Mense wat by die opknappingsprojek wil betrokke raak of dit wil ondersteun, kan me. Van Niekerk skakel by 072 753 0661 of me. De Vries by 071 014 6257.



