Alna Kapp is vasberade om ‘n verskil te maak
Haar opvousambreeltjie in die handsak het omtrent ’n gedoente afgegee en dié reisgenoot is byna ‘dismantle’.
Me. Alna Kapp, voorsitter van die VLU se Tambuki-streek, was kennelik opgewonde om haar wedervaringe oor haar onlangse reis na Australië te deel, maar die nuus van ‘n goeie, tweedehandse Bernina-naaimasjien het vir eers die gesprek ontspoor.
“As ek ‘n mooi stuk lap sien, kan ek dit nie weerstaan nie.”
Alna en me. Cindy Coetzee, president van die VLU in Mpumalanga, het op 28 Maart via Perth ‘n driejaarlikse konferensie van die Associated Country Women of the World (ACWW) in Melbourne bygewoon.
Die konferensiesentrum se hoofsaal, wat 3 000 mense kan huisves, het 750 vroue van regoor die wêreld oor verskeie onderwerpe touwys gemaak.
Me. Kapp het tydens die vorige gesprek met die Standerton Advertiser gesê dat wat aktueel in ons land is, is aktueel wêreldwyd.
Haar ondervinding van doeanepunte in Australië het haar onomwonde laat verklaar dat dit strenger is as in Suid-Afrika.
Haar opvousambreeltjie in die handsak het omtrent ‘n gedoente afgegee en dié reisgenoot is byna ‘dismantle’.
Wat betref die snuffelhond op die lughawe, is passasiers vooraf op die SAL-vlug gewaarsku om geen eetgoed aan hul persoon te hê nie, wat gesorg het dat die appel gekou en afgesluk is toe sy nog vasgegespe was.
Volgens haar, vergelyk Perth goed met Johannesburg en ‘n lekkerte was die beskikbaarheid van gratis WiFi op ‘n trem, bus en in die hotel.
Sommer 250-megabytes daagliks.
Melbourne het wye strate wat blykbaar toegeskryf word aan een van die stadsvaders wat in die dae van perdekarre besluit het dat ‘n ‘horse and carriage’ gemaklik moet kan draai.
‘n Twee-rigting-trem ry ook doeltreffend in dié stad se strate en naggeluide in Melbourne is trems wat dwarsdeur die nag loop.
“Ons het trems heen en weer en kruis en dwars gery.”
Verdwaal is ook moeilik want nadat jy ‘n kaart uitgehaal het, sal ‘n stem dadelik laat hoor; “Are you lost?’

Die vroue se program by die konferensie het oor ses dae gestrek en die besprekingspunte het sodanig verloop dat afgevaardiges na afloop van die deurtrap van die punt, moes stem oor die haalbaarheid daarvan al dan nie.
Elke areapresident moes ook ‘n verslag inlewer oor hul aktiwiteite die afgelope drie jaar.
“Dit gaan daaroor om uit te reik en mense op te hef.”
Alna het teruggekeer met ‘n duidelike boodskap aan die VLU-vroue om jaarliks die ‘Pennies for Friendship’-inisiatief te ondersteun.
“In die groter geheel gee dit die ACWW ‘n hupstoot.”
Die ACWW is volkome aangewese op skenkings en donasies om hulp te verleen waar daar nood is, en vroue vaardighede aan te leer om hul lewensomstandighede te verbeter.
Cindy en Alna se kennismaking by ‘n bushalte met ‘n Katolieke non van Indië wat onverpoosd in haar gemeenskap werk, het albei tot nadenke gestem.
“Sy het gesê dat sy hoop sy leef nog om die volgende konferensie by te woon.”
Suid-Afrika het ook ‘n eer te beurt geval toe me. Magdie de Kock van Heidelberg as Wêreldpresident verkies is.
Alna was by die dinee die enigste Suid-Afrikaner tussen ‘n Ier, Skot en Australiër waar dit haar opgeval het hoe ingelig hulle oor die politiek in Suid-Afrika is en sy moes uiteraard vrae oor korrupsie beantwoord.
Op die laaste dag is Penguin Island toe gery, want wat is ‘n toer na Doer Onder sonder om ‘n kangaroe en koalabeertjie te sien?
Die twee-ure-busrit het ‘n plattelandse gevoel gehad en daar is verby ‘n aspersieboerdery gery.
“Ek het elke liewe sekonde van my oorsese toer geniet,” het sy mee afgesluit.




