SECUNDA – Mnr. Ben en me. Elsie Peyper groet Secunda na 29 jaar.
Mnr. Peyper het in Augustus 1990 by Sasol begin werk as ambagsman en in 2012 afgetree by Sasol Groep Tegnologie as projekbestuurder.
Hy het egter na net ’n maand by die huis na sy aftrede, weer ’n draai by Sasol gemaak en nog twee jaar vir die petrolreus gewerk.
“Dit is maar hartseer vir ons om weg te gaan uit Secunda. Ons het baie kennisse en vriende hier gemaak,” het mnr. Peyper gesê.
Die egpaar verruil Secunda vir ’n warmer Nylstroom.
Hulle sien daarna uit om daar ook voëls te kyk en na warmer winters.
Mnr. Peyer is al vir jare ’n fotograaf en deesdae is sy gunsteling fotografie wildlewe en landskapfoto’s.
Voorheen het hy gereeld troues afgeneem asook portretfoto’s.
Hy het ook gereeld gepreek en bedien by die AGS Kerk op Evander asook verskeie ander gemeentes.
Toe hy nog gewerk het, was die Evangelie altyd vir mnr. Peyper ’n eerste prioriteit.
Hy het opleiding gegee by Sasol en het gesê hy kon baie mense bereik met die evangelie-boodskap.
“My werk was vir my ’n lekker bedieningsveld.
“Ek wou nooit Secunda toe kom nie en het baie teensinnig hierheen gekom toe ek die werk by Sasol gekry het.”
Hulle het, voordat hulle in 1990 na Secunda verhuis het, op Welkom in die Vrystaat gewoon waar mnr. Peyper sy eie rekenaartegnologie-onderneming bedryf het.
Dié onderneming het egter nie so goed gedoen nie en hulle het besluit om na Secunda te verhuis.
“My hart was egter in die Kaap. Ek het vir onderhoude na Mosselbaai en verskeie ander plekke gegaan, maar geen deure het daar oopgegaan vir my nie.
“Die Here en Sasol was goed vir.
“Ek het baie goeie geleenthede by Sasol gehad.”
Mnr. Peyper het gereeld gereis met sy werk by Sasol en was al in Duitsland, Engeland, Amerika, Portugal en ander dele van Europa as deel van ’n toer wat hy saam met sy vrou onderneem het.
Me. Peyper het vir jare by die munisipale kliniek op Secunda as suster gewerk en in 2007 afgetree en toe by die onkologie-eenheid op Trichardt uitgehelp.
“Ons sê totsiens aan Secunda en hoop dié mense wat gesê hulle gaan kom kuier op Nylstroom, hou by hul woord,” het mnr. Peyper afgesluit.




