Secunda-stapper styg bo fibromialgie uit
Me. Bezuidenhout het drie jaar gelede vir die eerste keer die Park Run gestap en besef dit doen wondere vir haar ligaam en gemoed.
SECUNDA – Die beste medisyne vir fibromialgie is om te stap.
Só meen me. Daleen Bezuidenhout (49).
Sy het onlangs haar 100ste parkrun voltooi en voel baie trots daarop.
“Ek gebruik geen medisyne nie. ‘n Positiewe gesindheid, geloof en oefening is al wat ‘n mens werklik met hierdie siekte kan help.
Dié ma van twee jong vroue is sowat nege jaar gelede met fibromialgie gediagnoseer.
“Ek en ‘n vriendin het destyds besluit om saam in die gimnasium te gaan oefen.
“Waar sy daagliks verbeter het en haar spiere gewoond geraak het aan al die oefening, het ek bitter swaar gekry.
“Dit het daagliks net vererger,” het me. Bezuidenhout vertel.
Sy is uit desparaatheid na die dokter en verskeie toetse later het bevestig dat me. Bezuidenhout fibromialgie het.
“Ek het nie eers geweet wat dit is nie.”
Haar man Pieter het dit gaan navors.

Fibromialgie is ‘n afwyking wat gekenmerk word deur spier en skeletpyne, erge en aanhoudende moegheid en slaap, geheue-verlies en buie, veral depressie.
Navorsers glo dat fibromialgie pynsensasies verhoog deur die manier waarop jou brein pynseine prosesseer, aan te tas.
“My hele lyf, veral my nek en gewrigte is ongelooflik seer en opgeswel wanneer ek soggens opstaan. Ek vergeet ook baie dinge en soms kan ek goed in my kop sê maar dit kom nie reg by my mond uit nie,” het me. Bezuidenhout verduidelik.
Fibromialgie veroorsaak ook glo erge depressie en lyers word meestal net antidepressante en spierverslappers voorgeskryf.
“Ek het gevoel dat die medisyne wat destyds vir my voorgeskryf is, my brein net meer aantas en het besluit om dit te laat staan.”
Me. Bezuidenhout het drie jaar gelede vir die eerste keer die parkrun gestap en besef dit doen wondere vir haar ligaam en gemoed.
Sy maak ‘n punt daarvan om elke Saterdag deel te neem en in die week oefen sy op die stapmasjien by die huis.
“Stres vererger die simptome van fibro en daarom het ek besluit om ‘n minder veeleisende werk te vind.”
Me. Bezuidenhout was vir jare in die versekeringssektor, maar is deesdae ‘n toesighouer by Laerskool Kruinpark se naskoolsentrum.
Sy mik nou om haar parkrun-tyd van 41:29 vir die 5km na 40 minute te verbeter.
“Ek is die agteros wat seker maak almal kom in. Al is die versoeking daar, glo ek daaraan dat ‘n mens nie net moet gaan lê nie. Bly besig, groei in jou geloof en bly weg van goed wat jou negatief maak.”




