Local newsNews

Theo Heymans balanseer ‘n paar balle in die lug

Natuurlik is alles ‘natuurlik’ en hy is vir geen geneties aangepaste groentesoort te vinde nie.

Mnr. Theo Heymans se stokperdjie van sadebewaring en groente groei, het geleidelik ‘n onderneming geword.

Dié oud-Standertonner, seun van Theo en Naomi Heymans, is gebore en getoë op die dorp en het aan Hoërskool Standerton gematrikuleer.

Sy B.Com-studies aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit en MBA van Henley Bestuurskool van Londen het gelei tot die oprigting van sy eie sagteware-ontwikkeling onderneming en hy sien kans vir baie.

“‘n Mens kan drie voltydse werke doen,” aldus die man wat nou in Midrand op ‘n hoewe bly.

Theo fokus op sekere sade wat erfstukstatus bereik het en variëteite wat oor jare heen getoets is om sy eie produkte te verbou.

“Die meeste vars groente in winkels is eenvormige, moderne basters wat tot ‘n paar probleme lei in smaak, verskeidenheid en toekomstige kweking.”

Hy is van mening dat die oorspronklike, unieke aard verlore gaan en die potensiaal van groentesoorte nie ontgin word nie.

Me. Marietjie Swart van die Kaalspruit-tak van die Vroue Landbou-unie het hom juis genader om hul lede in Junie toe te spreek waartoe hy ingestem het.

Dié tamatieliefhebber is nie die enigste een wat ‘groen’ gegaan het nie.

Wëreldwyd hou mense hul daarmee besig en sy netwerk is van so ‘n aard dat hy sade versamel het van oral oor, daar is onder meer tamaties, mielies en rissies uit Amerika, uie en knoffel uit die Midde-Ooste en blaargroente uit Europa.

Natuurlik is alles ‘natuurlik’ en hy is vir geen geneties, aangepaste groentesoort te vinde nie.

Om die integriteit en suiwerheid van sekere variëteite te behou, moet sekere spesies geïsoleer word om nie kruisbestuiwing te laat plaasvind nie en daarvoor staan ‘n netwerk van kleinskaal organiese boere gereed om Theo se sade te groei.

“Ons is ‘n redelike groot groep ‘maplotters’ wat kleinskaalse boerderye het.”

Sy groentetuin op ‘n drie-hektaar-hoewe spog met 600 verskillende soorte groente en jy kan maar opnoem.

Tamaties is gewis sy swakpunt met meer as 150 verskillende soorte in enige vorm, grootte en kleur wat jy aan kan dink.

“Ek is mal oor groente sedert ek gebore is en het eerste ‘n tamatie in die grond geplant,” het hy onthou.

Ma Naomi het duidelik nie gesukkel dat haar spruit sy groente opeet nie.

Theo voorsien van sy produkte aan 30 winkels in Johannesburg en verkoop ook aan ‘n paar kwekerye. Dan is die aanlynverkope nog nie in ag geneem nie.

“Mense soek na iets nuuts,” is dié entrepreneur se opsomming van die wêreld.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button