Marietjie Stuart sien uit na nuwe uitdaging as Laerskool Hoëveld hoof
Nuwe hoof wil in elke kind en personeellid se lewe belê
EVANDER – Me. Marietjie Stuart is in Junie amptelik as nuwe hoof van Laerskool Hoëveld aangestel.
Sy was sedert die einde van 2017 die waarnemende hoof en het gesê Laerskool Hoëveld voel soos huis.
Sy is sedert 1982 by dié skool betrokke, hoewel sy vir ’n rukkie by Laerskool Kinross gaan skoolhou het.
Me. Stuart is sedert 2011 die adjunkhoof by Laerskool Hoëveld.
Haar man, mnr. Dirk Stuart, was self in sy kinderjare ’n leerder aan Laerskool Hoëveld en die egpaar se kinders het ook by Laerskool Hoëveld skoolgegaan.
“Ek loop al ’n lang pad met die skool,” het me. Stuart gesê.
Haar swaer, mnr. Niel Stuart, en haar dogter, me. Monique Grobler, het in hul jare die trofee vir Atleet van die Jaar verower.
“Dit is vir ons baie spesiaal.”
Me. Stuart glo ’n mens moet ’n passie hê vir dit wat jy doen en geduld as ’n mens met kinders werk.
“Die dag toe ek hier oorneem het, het ek vir die Here gesê dit is Sy skool en Hy moet my wys wat ek moet doen en hoe ek dit moet doen.
“Elke kind en personeellid is vir my belangrik en ek wil iets nalaat wat vir hulle iets sal beteken.”
Me. Stuart glo elke kind is belangrik en wil by kinders die besef tuisbring dat hulle vir niks hoef terug te staan nie.
Sy het drie kinders en sewe kleinkinders.
In haar vrye tyd geniet sy dit om te kampeer, te lees, in die tuin rond te krap of om tyd met haar kleinkinders te bestee.
Sy geniet dit veral om saam met hulle te bak en brou en piekniek te hou.



