Local newsNewsSchools

Juffrou Lettie lê tuig neer na 30 jaar by Laerskool Kruinpark

Onderwyser sien uit na rustiger lewe en meer oefen

SECUNDA – Me. Lettie le Roux (60) het na 30 jaar by Laerskool Kruinpark afgetree.

Sy was deel van die skool vandat dié skool in 1989 sy deure oopgemaak het. Sy het op 31 Julie amptelik die tuig neergelê.

Me. Le Roux en haar man, Louis, het na hul troue hulself op Secunda in 1981 kom vestig.

Me. Le Roux het destyds as groentjie nadat sy haar onderwysgraad by die destydse onderwyskollege voltooi het, haar onderwysloopbaan by Laerskool Oranjegloed Primary School begin.

Haar liefde vir kinders het haar laat besluit om ‘n loopbaan in onderwys na te jaag.

Sy het Oranjegloed later vir Laerskool Goedehoop verruil waar sy vir sewe jaar skoolgehou het voordat sy Kruinpark toe is.

Me. Le Roux is in Vereeniging gebore en het haar kinderjare op ‘n plaas by die Vredefort-koepel in die Vrystaat bestee en naby Parys skoolgegaan en later op Potchefstroom en nog later in Pretoria.

Me. Lettie le Roux tydens haar afskeidsfunksie by Laerskool Kruinpark.

Me. Le Roux onthou 30 jaar terug toe Laerskool Kruinpark nét sy deure oopgemaak het en mnr. Dirk Laubcher nog die skoolhoof was, was daar net bossies.

“Ons personeel het alles denkbaar saam met mnr. Laubcher aangepak,” het me. Le Roux vertel.

“Ons, die kinders en onderwysers, het in lang rye langs mekaar geloop en klippe opgetel nadat die rugbveld omgeploeg was.

“So het ons destyds gras geplant en ek het gesien hoe die terrein ontwikkel het tot die pragskool wat dit nou is.”

Me. Le Roux het begin as gr.2-juffrou in die junior fase, maar later natuurwetenskap vir gr. 5- en gr.7-leerders gegee.

Sy beplan om rustiger te wees noudat sy afgetree het, hoewel sy meer wil gaan fliek, stap en oefen.

Sy wil ook graag meer lees en saam met haar man reis na plekke wat hulle nog nie gesien het nie.

Me. Le Roux het gesê die beste oomblikke in haar loopbaan as onderwyser was elke kind se glimlag, drukkie en vordering.

“Die beste was die wonderlike onderwyserskorps van Laerskool Kruinpark.”

Die egpaar het twee kinders en drie kleinkinders waarvan twee op Secunda woon.

Laerskool Kruinpark se personeel en ouers het in ‘n huldeblyk op Facebook gesê die skool was geseënd om me. Le Roux vir die afgelope 30 jaar by die skool te hê en ‘n mens kon haar liefde vir die leerders aanvoel en sien in die manier hoe sy elke kind drukkies gegee het.

‘Baie van ons as ouers was self deur juffrou Lettie se deersnisvolle hande en pik saam met ons kinders krokodiltrane,’ het die Facebook inskrywing gelui.

Sy is verder beskryf as ‘n tweede ma vir die leerlingraad-leerders, as ‘n formidabele landloopafrigter en ‘n bobaas-afkondiger.

Me. Lettie le Roux groet Laerskool Kruinpark na 30 jaar.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button