My Cuppa My Storie bring hoop vir vroue van Secunda
Haar boodskap Saterdag aan die vroue is om hul selfwaarde te ontdek en om te besef dat hulle uniek volmaak is.
SECUNDA – Kanker is deel van die lewenstorie van albei vroue wat op Saterdag, 7 September, aan die woord was by die jaarlikse Cuppa vir Kanker.
Dié vroue-oggend se tema was My Cuppa My storie. Dit is in die Sasol Ontspanningsklub op Secunda se hoofsaal gehou en het 220 gaste gelok.
Me Chantall Opperman, ‘n kankerpasiënt wat verlede week haar 12de chemo-sessie ondergaan het, was die gasvrou en me. Marcel Kruger (32), die nuwe gemeenskapmobiliseerder by Kansa in Secunda, was die gasspreker.
Me Kruger wil hê haar storie moet een van hoop wees. Sy het haar lewelank waardeloos gevoel en het nie geglo dat sy ooit iemand sou inspireer nie.
“Ek was op skool oor my groot borste geboelie. Ek het hulle probeer wegsteek. Min het ek geweet dat dit eendag my grootste stryd sou word,” het sy vertel.
Me. Kruger is twee keer met kanker gediagnoseer.
Sy is in 2013 vir die eerste keer gediagnoseer en het dit soos ‘n saketransaksie aangepak.
“Ek het nie daaroor gepraat nie en dit alleen probeer doen. Dit het byna my huwelik gekos. Kanker raak ook die mense rondom jou.”
Me. Kruger is in 2016 weer met borskanker gediagnoseer.
Sy het besluit dat kanker nie gaan definieer wie sy is nie, haar stryd gaan nie onnodig wees nie en Satan gaan nie so haar vreugde steel nie.
Hierdie keer het sy die mense om haar toegelaat om saam met haar te die pad te stap.
Hulle het eers ‘n pity party gehou en toe skeer almal hul hare af – haar man inkluis. Sy het na haar pruik as “my beste vriendin Lola” verwys.
Me. Kruger het as ‘n vrywilliger by Kansa begin en het toe haar eerste Cuppa bygewoon.
Haar boodskap Saterdag aan die vroue is om hul selfwaarde te ontdek en om te besef dat hulle uniek volmaak is.
“Jy moet nie eers wag vir ‘n doodsvonnis om introspeksie te hou nie.
“Word ‘n persoon wat ‘n verskil maak, wees pro-aktief, en verander jou manier van dink.”
Meer fotos beskikbaar hier:
https://www.citizen.co.za/ridge-times/145475/galery-vroue-vertel-hul-stories-secunda-kansa-se-cuppa/



