ATKV gee terug aan gemeenskap en skenk rekenaars
Me. Tracey van Wyk, voorsitter van die ATKV Kosmosrand-tak, het ook gesorg dat die SAVF ’n rekenaar ontvang.
SECUNDA – Die ATKV Kosmosrand-tak het onlangs rekenaars aan ’n huis vir kinders in pleegsorg en ’n skoolkoshuis oorhandig.
Me. Estelle Coetzer van Janelle Huis, en mnr. Henk Louw, koshuisvader by Laerskool Trichardt, het dié rekenaars tydens die ATKV Kosmosrand-tak se streekvergadering wat by Die Ark by die N.G. Kerk Secunda-Oos/Goedehoop-gemeente gehou is, ontvang.
Absa Bank het die rekenaars oorspronklik aan die ATKV geskenk.
Me. Tracey van Wyk, voorsitter van die ATKV Kosmosrand-tak, het ook gesorg dat die SAVF ’n rekenaar ontvang.
Me. Coetzer het gesê die rekenaars sal hulle baie help omdat hulle tans nie ’n rekenar by Janelle Huis het waarop die kinders hul skooltake kan doen nie.
“Dit is ’n groot geskenk, ons het nog nooit só iets gekry nie,” het me. Coetzer gesê.
Sy het die lede wat die vergadering bygewoon het, meer van Janelle Huis vertel en gesê dit is nie ’n kinderhuis nie, maar ’n plek van veiligheid waar kinders wat uit traumatiese situasies kom, kan tuisgaan.
“Die meeste kinders wat na ons toe kom, is seksueel misbruik en mishandel,” het me. Coetzer gesê.
“Daar kom dogtertjies by ons aan wat met sigarette gebrand is.”
Mnr. Louw het ook die ATKV vir die rekenaars bedank.
Me. Lorraine Boshoff (ondervoorsitter van die ATKV Kosmosrand-tak) het gesê dié tak het ’n hart vir mense en fokus veral op welsynwerk.
“Ons het ook ’n hart vir die jongmense en wil ná die skoolvakansie ’n ATKV-jeugtak op Secunda stig,” het sy gesê.
Lede van dié tak wil betrokke raak by gesinne en enkelouers bystaan.
Me. Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV, het gesê die organisasie vier volgende jaar hul 90ste bestaansjaar.
“Die ATKV se onderskeidende kenmerk was nog altyd om op die mense in ons gemeenskappe te fokus,” het me. Brits gesê.
“Hoeveel helde is eintlik gewone mense?
“Mense wat behoeftes in ’n gemeenskap raaksien en iets daaraan doen.”
Me. Brits het vertel dat die ATKV al terugvoer vanaf lande soos België en Nederland gekry het. Hulle wou weet hoe die ATKV dit regkry om so lank te bestaan.
“Ons het vir hulle gesê ons spreek ’n behoefte aan, want dan is ons relevant.”
Lees is die tema vir volgende jaar.
Sy het mense aangemoedig om meer te lees.
Me. Brits het die bestuur van die ATKV Kosmosrand-tak vir hul harde werk om die vergadering en ete te reel, bedank.
Mnr. Seymour Bothman van die ATKV-instituut, het ook die lede meer van die instituut vertel.
Liana Reynolds en Jaco Spies, kunstenaars vanaf Bloemfontein, het die gehoor met hul musiek vermaak.
As jy by die ATKV Kosmosrand se gesinstak betrokke wil raak, skakel me. Tracey van Wyk by 074 103 6381.




