SECUNDA – Ds. Koos Gerber (72) wat vir 32 jaar ‘n predikant by die N.G. Rondekerk op Secunda was, is op Woensdag, 11 September dood.
Volgens sy skoonseun, mnr. Gerhard Breytenbach, was hy die afgelope nege weke voor sy dood in die hospitaal met sepsis (bloedvergiftiging) en longontsteking, maar hulle vermoed dit was egter ‘n bloedklont deur die longe wat ds. Gerber se lewe geëis het.
Hy is kort voor sy dood na ‘n rehabilitasie-sentrum in Pretoria oorgeplaas, maar het net een nag daar geslaap voordat hy dood is.
Dokters het glo gesukkel met slym op ds. Gerber se long.
Ds. Gerber en sy vrou, me. Magriet Gerber (67), het steeds op Secunda gewoon ná ds. Gerber in 2012 afgetree het.
Hy laat sy vrou, me. Gerber, sy dogter en skoonseun en twee kleinkinders na.
Sy gesin sal ds. Gerber onthou as iemand wat baie lief was vir die Here.
Sy gedenkdiens vind op Woensdag, 18 September om 11vm in die N.G. Rondekerk plaas.




