Margaret Tonkin help met landelike onderwys
Die aanloop tot die naskoolsentrum het begin by die bou van ’n ontspanningsaal en kerk waar predikers van verskeie denominasies die geloofsboodskap uitdra.
Me. Margaret Tonkin het geïdentifiseer dat die land braak lê wat betref die plaaswerkerkinders se toekoms en Kromdraai Education Centre in Junie verlede jaar op die been gebring.
“Na sowat 50 jaar op die plaas, het ek besef dat die ouers nie toegerus was om hul kinders na skool met huiswerk te help nie,” het Margaret gesê.
In ‘n snelveranderde onderwysmilieu spog dié sentrum met reëls in sowel Engels as Zoeloe en blootstelling aan Afrikaans word nie agterweë gelaat nie.
Om agter die kap van die byl te kom, het Margaret se agtergrond ‘n bepalende rol gespeel.
‘n Bosveldkind in murg en been het haar op die Hoëveld kom tuismaak en sy en haar man, Jan, sal op 5 Desember volgende jaar hulle goue bruilof vier.
Margaret se alma mater is die voormalige Goudstadse Onderwys Kollege en sy het vir ‘n kort tydperk by Laerskool Platrand klasgegee, met drie standerds in een klas, wat moontlik kan aandui waarom die verskillende ouderdomsgroepe by die sentrum nie ‘n onoorkombare hekkie is nie.
Haar moeder, me. Lizzy Kleynhans, was vir baie jare voorsitter van Groblersdal se Willie Hamman-tak van die Vroue Landbou-unie (VLU) en Margaret het in 1976 by die Kaalspruit-tak aangesluit en het ‘n lidmaatskapknopie as bewys daarvan.
Haar liefde vir tuinmaak kon uiting vind by die Standerton Tuinbouklub waar sy vir ses jaar voorsitter was en deesdae die ondervoorsittersportefeulje beklee.
Die aanloop tot die naskoolsentrum het begin by die bou van ‘n ontspanningsaal en kerk waar predikers van verskeie denominasies die geloofsboodskap uitdra.
Kinders is in die toegeruste sentrum in drie groepe ingedeel met skryfbehoeftes, telrame en sakrekenaars wat beskikbaar is.
Gras is aangeplant, klimrame opgesit en die kinders kan op ‘n netbalbaan en sokkerveld van al die oortollige energie ontslae raak.
Margaret word bygestaan deur me. Sesi Mahlobo, mnr. Duduzi Shongwe en me. Petra Fischer en dit sal nie ‘n ongewone gesig wees om ‘n voormalige kleuterskoolonderwyser daar te sien wat help nie.
Hul begroting word by Quantum Energy se depot ingedien met Petra se B.Com Honneurs wat hier ‘n rol speel.
“Ons grootste ideaal is dat elke kind wat skool verlaat, rekenaarvaardig is of selfs net beter toegerus vir die lewe sal wees.”
Die sentrum bou tans ‘n biblioteek op en oor die behoefte aan boeke kan nie doekies omgedraai word nie.
Margaret se span by Kromdraai het na kort beraadslaging saamgestem oor hul rol:
“Onderwys is ‘n roeping.”




