Dano Sadie van Hoërskool Oosterland dring deur na eindronde van Matrikulant van die Jaar
Matrikulant wil na sy studies in Afrika werk as dokter en evangelisasiewerk doen
SECUNDA – Dano Sadie, ‘n gr.12-leerder van Hoërskool Oosterland, is as ‘n top 14-finalis gekies vir ‘n landwye kompetisie, Matrikulant van die Jaar 2019.
Die beoordelaars kyk na die leerders se betrokkenheid by hul gemeenskappe, kultuur, leiereienskappe en akademiese prestasies.
Me. Liné de Vries, skakelbeampte van Hoërskool Oosterland het gesê hulle is trots op Dano.
Hy het by twee universiteite keuring gekry om medies te studeer, die Universtiteit van Pretoria (Tukkies) en die Universiteit van die Vrystaat (Kovsies).
“Die feit dat Dano by twee universiteite keuring gekry het, spreek boekdele oor sy toewyding as leerder by Oosterland. Dit bewys dat Oosie-leerders dit vér kan bring,” het me. De Vries gesê.
“Daar is genoeg ondersteuning, akademiese hulp en omgee by ons skool.
“Dit is die derde keer dat ‘n Oosie genomineer word vir dié kompetisie.”
Oosies het in 2004 ‘n wenner in dié kompetisie opgelewer toe Juan-Mari Kruger gekies is.
Me. De Vries en Oosterland se personeel het Dano alle sterkte vir sy pad vorentoe en sy studies by Kovsies toegewens.
Dano is betrokke by Umphumela Kinderhuis, het leerders van Laerskool Kruinpark touwys gemaak en afgerig op die sokkerveld, het ekstra klasse in wiskunde en wetenskap gegee aan hoërskool-leerders, het as mentor vir gr.8-leerders opgetree, viool by geleenthede gespeel en verskeie prestasies op kultuurgebied bereik.
Dié prestasies sluit in debatvoering, redenaarkompetisies en eisteddfod-kompetisies.
Hy is die hoofseun by Hoërskool Oosterland en in sy vrye tyd neem hy deel aan landloop, die parkrun en sokker.
As hy sy studies voltooi het, beoog hy om in Afrika as dokter te werk en ook om evangelisasiewerk te doen.
Die wenner van die Matrikulant van die Jaar sal einde September aangekondig word tydens ‘n naweek waarheen al die finaliste en hul ouers genooi is.
Daar sal gedurende dié naweek onderhoude met die finaliste gevoer word.




