Leonie van Rensburg gepas vereer vir bydrae tot Afrikaanse boekebedryf
Dié oud-leerder van Hoërskool Standerton sal sekerlik by die skool se reünie op 21 September tussen die gesels deur bontstaan om die 1979-matriekklas se vrae te kan beantwoord oor die hoe, waar en wanneer van Graffiti Books & Stationery in Pretoria se suksesverhaal.
Oud-Standertonner, me. Leonie van Rensburg, se bydrae tot die Afrikaanse boekebedryf is onlangs gepas vereer.
Die ATKV het aan haar ‘n Woordveertjie by ‘n spoggeleentheid op 6 September in Stellenbosch toegeken as dank en waardering vir sowat vier dekades se toewyding aan Afrikaanse boeke en skrywers.
Dié oud-leerder van Hoërskool Standerton sal sekerlik by die skool se reünie op 21 September tussen die gesels deur bontstaan om die 1979-matriekklas se vrae te kan beantwoord oor die hoe, waar en wanneer van Graffiti Books & Stationery in Pretoria se suksesverhaal.
Me. Hettie Scholtz, oud-uitgewer, het tydens die ATKV-geleentheid die ambiance van haar winkel toegelig.
Skrywers soos Wilna Adriaanse en Eben Venter sou dit moeilik vind om die gevoel vas te vat, maar was dit eens dat hulle in goeie hande is.
Leonie het haar as entrepreneur gevestig in ‘n snelveranderde bedryf en ‘n aanlyn-boekwinkel ook op die been gebring.
Sy het mentors uitgesonder wat haar voorberei het op haar loopbaan beginnende by me. Elizabeth Hambidge op skool wat haar die liefde vir die taal geleer het, mnr. Stephen Johnson wat haar die kans gegee het om by Exclusive Books te werk, tot by me. Scholtz wat ‘n sterk ondersteunende rol gespeel het.
Die druk van die werksomgewing word ontbondel met gereelde kuiers met familie en vriende en uiteraard, sal sy lees.
Leonie se paspoort word ook gereeld gestempel vir besoeke na Ierland en op eie bodem is die wildtuin by Pilanesberg die aangewese keuse om batterye te herlaai.
“Die Afrikaanse boekemark het letterlik ontplof met soveel nuwe skrywers wat onlangs gepubliseer het.
“Die gehalte van ons skrywers is van internasionale standaard.”
Leonie wou nie te veel geheime verklap oor haar toekomsplanne vir die winkel nie, hoewel sy aangedui het dat sy iets groot vir die volgende twee jaar beplan.
“Die heel lekkerste van my werk is die interaksie met mense, skrywers en uitgewers en as hulle dit raaksien en my beloon met ‘n Woordveertjie.”
Haar gunsteling Afrikaanse televisiereeks is ‘Alles Malan’ en ‘Lui maar op Belinda’ prikkel haar lagspiere.
Die Standerton Advertiser het voorheen ‘n onderhoud met Leonie gevoer en omdat sy ‘n kleintjie dood het aan die woord ‘awesome’, gaan ons nie eens probeer nie.




