Kind met liesbreuk benodig dringend operasie
“Die dokter wil so gou moontlik opereer - verkieslik nog in die skoolvakansie,” het me. Bothma verduidelik
SECUNDA – Stefan Bothma (9) moet dringend ‘n liesbreuk-operasie ondergaan.
Dié graad 3-leerling van Laerskool Goedehoop loop al bykans ‘n jaar met dié breuk wat mettertyd vererger.
Volgens sy ma, me. Wendy Bothma, is hy ‘n woelige knapie wat veral van hokkie hou, maar deesdae neem selfs hierdie sport ‘n tol op haar seun.
“Hier teen die einde van die seisoen het ons gesien hy hardloop moeilik.”
“Ons is nie seker of die breuk sedert geboorte bestaan en dat dit eers verlede jaar begin wys het nie, en of die breuk gebeur het weens ‘n skop wat deur ‘n ander seun toegedien is nie. Nietemin, ek kan sien die breuk veroorsaak pyn en ongemak,” het me. Bothma gesê.
‘n Liesbreuk onstaan wanneer die derms deur ‘n swakheid in die abdominale wand druk. Hoe langer die derms deur die swakheid druk, hoe groter is die kans dat die derms septies kan word.
Stefan ondervind goeie en slegte dae. Die goeie dae beteken dat die breuk nie sigbaar is nie. Die slegte dae gebeur wanneer die derms deur die breuk druk. Dan lyk dit of ‘n bal in sy lieste is.
“Gelukkig trek dit nou nog terug, maar ons ys vir die dag wanneer dit nie meer sal terugtrek nie.”
Allerlei probleme, gangreen inkluis, sal dan Stefan se voorland wees.
“Die dokter wil so gou moontlik opereer – verkieslik nog in die skoolvakansie,” het me. Bothma verduidelik. Hy raak ouer en hoe langer ons die operasie uitstel, hoe erger gaan die regmaak daarvan wees.
“Seuns is maar rof en hulle kan soms hardhandig speel. Ons wil keer dat die breuk erger raak,” het me. Bothma gesê.
Sy en haar man, Leon, het nie ‘n mediese fonds nie. Hulle benodig egter nog net R16 000 vir die hospitaal waar die operasie uitgevoer sal word.
Stefan is die Bothma-egpaar se enigste spruit.
Mnr. Bothma is ‘n ketelmaker by ‘n kontrakteursmaatskappy en me. Bothma smous plastiekware en grimering vanaf die huis.
Stefan is ‘n vriendelike kêrel met blonde hare en helderblou oë.
Hy dra met trots ‘n litteken waar ‘n bokkie-hond hom as baba toegetakel en gebyt het.
Die Oregon Spur in die Secunda Mall het op Dinsdag, 17 September ‘n geldinsamelingsaksie gehou waar ‘n gedeelte van die wins aan die Bothma’s geskenk is.
Mense wat wil help, kan me. Bothma skakel by 063 142 7151.
https://www.facebook.com/echoridgenewspapers/videos/387944685217773/



