Beesboere op die dorp steek kers op by veekundige
Dr. Mentz, ’n boorling van Douglas in die Noord-Kaap, het sy doktorsgraad aan die Universiteit van Bloemfontein verwerf en voorgraadse studie by die Universiteit van Pretoria voltooi.
Dr. André Mentz, veekundige, het op 17 September by die sportsaal van Hoërskool Standerton sy boek, Wat is beesboerdery?, bekendgestel.
Sy seun, die sakeman mnr. Manus Mentz van Standerton, het gehelp om dié geleentheid te reël waar 42 boere na ‘n praatjie kon luister.
Die tema van die voorlegging was ‘produksie’ op ‘n kommersiële beesplaas.
Die bespreking het spesifiek gehandel oor die verskil tussen prestasie en produksie waar eersgenoemde handel oor die individue, asook genetika, en laasgenoemde oor die totale kudde se insette en uitsette in terme van lewendige massa geproduseer per hektaar.
Met die oog op produksie is daar ‘n verdere vergelyking getref tussen ‘n speenkalfproduksie- en ‘n slagbeesproduksiestelsel met die voordele en nadele van elk in detail bespreek.
Baie van die boere het lekker saamgesels en heelwat idees oor dié onderwerpe en stelsels is onder mekaar uitgeruil.
‘n Nuwe gedagte oor diervoeding met die oog op oorwintering het na vore gekom,” het dr. Mentz gesê.
Die webtuiste https://www.ecologicalcattlefarming.co.za/ kan vir meer inligting besoek word.
Dr. Mentz, ‘n boorling van Douglas in die Noord-Kaap, het sy doktorsgraad aan die Universiteit van Bloemfontein verwerf en voorgraadse studie by die Universiteit van Pretoria voltooi.
Hy het in die 60-er jare by die Departement van Landbou en Vissery gewerk tot 1980 waarna hy en sy vrou na Namibië verhuis het en geboer is tot 1996.
Met hul terugkeer het hy ook op Vrede en Newcastle geboer totdat Douglas die nuwe tuiste geword het.
Hy het eerstehandse kennis van die skade wat ‘n veldvuur op ‘n plaas kan aanrig met die brand op Vrede wat liefs vergeet moet word.
Wat is beesboerdery? is nie sy eerste publikasie nie en die boeregemeenskap teenwoordig het ingespring om meer te wete te kom van sy gedagtes en idees vir hul lewensbrood.



