Local newsNews

Bethal VLU het Sophie Jordaan help vorm

Me. Sopie Jordaan is alombekend in die die VLU-kringe. “Dit was eers toe dat ons kon begin vir die kerk en hoërskool werk. Groot was die vreugde dat ek by die VLU kon aansluit.”

BETHAL – Sy is in die Sandveld tussen die berge en pragtige blomme gebore.

Me. Sopie Jordaan is alombekend in VLU-kringe.

Sy het meer van haar lewensverhaal vertel en die lewe in die Sandveld.

“In die winter was daar sneeu op die berge en pragtige blomme en in die lente die lappe geel-, wit- en oranje blomme. Ek was altyd bang waar ek trap, want daar was oral blomme.”

Aan die begin het sy en haar broer met ’n eselkarretjie skool toe gery. Omdat dit ’n plaasskool was, moes sy later koshuis toe gaan.

“Dit was aan die begin van die oorlogsjare en kos en petrol was maar soms min. Ek het van kleins af gesê ek wil gaan verpleeg. Ek het met my opleiding op Aliwal-Noord begin en voltooi. Daar het ek my man ontmoet.”

Haar twee seuns is later gebore en sy en haar gesin is Zimbabwe of soos dit destyds bekend was, Noord-Rhodesia, toe.

Een van hulle seuns het baie erg malaria gekry en hulle moes na nege jaar in Zimbabwe na Suid-Afrika terugkeer.

Hulle het hul eindelik op Bethal gevestig en nadat die kinders goed aangepas het, kon hulle huisbou.

“Dit was eers toe dat ons kon begin vir die kerk en hoërskool werk. Groot was die vreugde dat ek by die VLU kon aansluit.”

In daardie jare het die VLU heelwat kursusse aangebied en me. Jordaan het daaraan deelgeneem.

Sy het baie by die beoordelaars geleer en ook om met haar medelede saam te werk.

Dít was vir haar lekker.

“Omdat ek 13 keer moes verhuis, kon ek eindelik terugsit en myself uitleef. By die VLU het ek geleer dat jy nooit te oud is om te leer nie. Hoe meer jy deelneem, hoe wyer jou kennis. Jy moet jou beste gee en die samewerking en deeglikheid het my astware gevorm.”

Sy het die meeste geleer terwyl sy saam met die beoordelaars geloop het.

Dit kon sy weer aan deelnemers oordra.

“Ek het by die VLU geleer om deel te neem, want mens leer die meeste deur jou foute. Dit het my ook geleer om aandag aan ander se werk te gee, omdat so baie beter as ek is. Ek is dankbaar vir elkeen met wie ek kon saamwerk, leer en lag. Baie dankie dat ek julle kon leer ken,” het me. Jordaan gesê.

Haar man se dood was vir haar ’n groot verlies.

Sy het vyf kinders waarvan een in ’n motorongeluk dood is.

Tien agterkleinkinders het haar lekker besig gehou en sy is bevoorreg omdat sy hulle kon help groot maak.

Sover is daar net twee agterkleinkinders, maar nog vier is oppad.

Me. Sophie Jordaan is een van die lede van Bethal VLU-tak wat die langste lid is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button