Suzanne Volschenk rebelleer teen sekere beskouings
Maak geen fout nie, as sy nou in ’n restaurant sit, is sy deeglik bewus van die moets en moenies van die spysenieringsbedryf.
‘n Rebelse individu met ‘n kunssinnige streep, al die pad van die Noord-Kaap, het haar in die Amersfoort-omgewing kom vestig en het haar eerste publikasie die lig laat sien.
Die titel van haar boek ‘Katariena Katrien Katryn’ verwys na die ouer garde se manier om jou aan te spreek as hul dalk jou naam vergeet het.
Me. Suzanne Volschenk, het na matriek op Barkley-Wes haar tassie gepak, geryloop en haarself aan die lewe gehou met kelnerin speel op verskeie dorpe, tot sy uiteindelik by Spur ‘n bestuurderspos beklee het.
“Ek het ongelooflike mensekennis opgedoen,” het Suzanne gesê.
Maak geen fout nie, as sy nou in ‘n restaurant sit, is sy deeglik bewus van die moets en moenies van die spysenieringsbedryf.
Sy het haar man, Sean, op Kokstad ontmoet en geen tradisionele bruilof is gehou nie.
“Ons is langs die rivier in ‘n somerhuisie van wilgerbome en kosmos getroud.
“Sean het stapstewels en jeans gedra en ek ‘n groen rok wat ek die oggend by Woolworths gekoop het.”
Die rede vir dié uitrusting was dat sy die voorafbeplande, gemaakte trourok nie wou aantrek nie.
Die Walshes en hul seun Shannon boer intensief op 62ha grond en huur ‘n bykomende 160ha vir hul skape, beeste en bokke.
‘n Tornado in die omgewing was egter ‘n keerpunt.
“Alles wat in 23 jaar opgebou is, is letterlik verwoes en selfs die mooiste lyndrade is opgeruk en weggeslinger.”
Haar boek waaraan sy sowat twee-en-‘n-half jaar aan geskryf het, was nie veronderstel om uitgegee te word nie, maar meer ‘n bestekopname van haar persoonlike reis vanuit moeilike grootwordjare.
“Alles daarin is ook nie waar nie, ek het bietjie bygelieg,” het sy erken.
Die kreatiwiteit het ook na die dood van haar pa in ‘n ander medium, skilder, uiting gevind.
Een voorval waar ‘n vrou in ‘n kunsgalery gesê het sy moet haar kwaste maar neersit, is kop omgedraai en sy doen nou olieverfskildery, onder die naam Volschenk-Walsh, haar nooiensvan ter ere.
Suzanne het ook nie altyd as Suzanne bekendgestaan nie, haar familie-doopname het sy na skool verander.
Met Shannon wat tuisonderrig tot begin gr. 9 ontvang het, het sy ‘n leesvoorkeur wat veral biografieë, historiese romans en speurverhale insluit en vanweë ‘n hekel aan gestruktureerde musiek, is die ‘country’-genre haar gunsteling.
“Ek beskou myself as doodgewoon, maar wil byvoeg dat vroue nie net in een boksie pas nie,” het sy mee afgesluit.



