Sibusiso gaan van weeskind na musiekvervaardiger
Jong man vind tuiste by Janelle Huis se stigter
KINROSS – Mnr. Sibusiso Manana (19) is dankbaar om deel van ‘n gesin te wees waar hy liefde kry en die vryheid het om homself te wees en sy passie uit te leef.
Vandat mnr. Manana vyf jaar oud was, het hy nooit gevoel hy hoort êrens nie omdat hy by verskeie mense asook ‘n kinderhuis moes bly.
Sy ma het in Afghanistan gewoon en kon nie vir hom sorg nie omdat sy nie werk gehad het nie.
Sy ouers is geskei toe hy gebore is en sy pa was nooit deel van sy lewe nie.
“Ek het hom net gesien as ek verjaar het,” het mnr. Manana vertel.
Sy ma het mense op Kinross gevra of hulle na haar kind kon kyk en mnr. Manana het vir sowat ‘n jaar by dié mense op Kinross gewoon voordat hulle hom teruggeneem het na sy ma toe.
Sy ma kon egter steeds nie na hom omsien nie en het gehoor van ‘n vrou op Afghanistan wat ‘n dagsorgsentrum het wat kinders inneem en hom soontoe gestuur.
Hy het vir drie jaar by dié vrou gewoon waar hy gereeld geslaan is en laat voel is hy is nie goed genoeg nie.
“Ek was nie toegelaat om enige foute te maak of met maatjies buite te speel nie, dan is ek geslaan,” het mnr. Manana vertel.
“Ek het vir my ma gesê as ek haar op my verjaarsdae gesien het, dat die ouma waar ek bly, slaan my, maar sy het my nie geglo nie en niks daaraan gedoen nie.”
Hy het, toe hy 10 jaar oud was, besluit om van die huis af weg te loop en by sy suster wat toe reeds in haar 20’s was en ook op Afghanistan gewoon het, gaan aanklop vir hulp.
“Sy het my ook nie geglo nie en gesê ek jok en my ook geslaan en by haar huis weg- gejaag.”

Mnr. Manana het, as 10-jarige seuntjie met ‘n bebloede gesig van die hou wat sy suster hom gegee het, besluit om te loop vanaf Afghanistan na Kinross.
Hy het moeg onder ‘n boom gaan sit en kinders in die straat sien speel.
Dié kinders het hom ook opgemerk en gevra wat fout was.
Hulle het hul ouers gaan roep en die CMR se hulp is ingeroep.
Mnr. Manana is in Janelle Huis geplaas vir drie maande waar sy lewenspad met dié van me. Estelle Coetzer, wat vandag vir hom soos ‘n ma is, gekruis het.
Hy kon egter net vir 90 dae by Janelle Huis bly omdat dit ‘n plek van veiligheid is en nie ‘n kinderhuis nie.
Volgens die wet moet die kinders na 90 dae na ‘n permanente tuiste soos ‘n kinderhuis, of by ‘n familielid geplaas word.
Mnr. Manana is na ‘n kinderhuis in Mpumalanga geneem waar hy die res van sy skoolloopbaan voltooi het.
By dié kinderhuis het hy minstens ‘n dak oor sy kop, kos elke dag en ‘n bed om in te slaap gehad, maar hy het steeds na die liefde van ‘n ma gesmag.
“Niemand het aandag aan ons in die kinderhuis gegee nie of tyd met ons bestee nie.
“Meeste van my vriende van die kinderhuis is vandag op straat en aan dwelms verslaaf.”
Mnr. Manana het, na sy matriekjaar, by ‘n vrou op eMbalenhle gewoon wat hom wou aanneem, maar hulle het baie verskil en stry gekry.
Mnr. Manana het later teruggegaan na die plek waar hy een keer in sy lewe liefde ontvang het, na Janelle Huis, en sy pad het weer met me. Coetzer s’n gekruis.
“Ek het my hele lewe lank by vreemdelinge gebly en moes op hulle staatmaak om vir my te sorg.
“Ek was moeg vir gebroke huise en mense wat namens my besluit het wat die beste vir my toekoms is.
“Tannie Estelle was altyd in my hart omdat sy my altyd so mooi behandel het in die drie maande wat ek by Janelle Huis gebly het as ‘n 10-jarige seuntjie.”
Me. Coetzer het aangebied dat mnr. Manana by haar en haar man op Kinross gaan woon.
Sy gee mnr. Manana die kans om sy passie, musiek, uit te leef.
Hy verdien ‘n inkomste as musiekvervaardiger en in sy vrye tyd doen hy liggaamsbouoefeninge.
Hy is deur ‘n onderneming wat gesondheidsprodukte verkoop, genader om as ambassadeur op te tree.
Hy is die visie-voorsitter by Janelle Huis en wil graag kinders wat 18 jaar oud is en uit kinderhuise of plekke van veiligheid kom, help.
Mnr. Manana het ‘n groep, naamlik die Infinite Vision Gang, gestig wat daarop fokus om jong volwassenes te help om hul voete te vind ná skool en in hul lewens te belê.
Dié groep maak ook musiek en hulle bestaan uit sangers, dansers en liedjieskrywers.
Hulle het in Augustus by Zebra Lounge by Lake Umuzi opgetree.
Mnr. Manana se musiekonderwyser op skool het hom geleer kitaar speel en hy het homself geleer hoe om musiekproduksie te doen.
Me. Coetzer het vandag steeds foto’s van mnr. Manana as 10-jarige seuntjie by Janelle Huis gebly het.
“In die begin was hy ‘n kwaai seuntjie, maar hy het wonderlik oor die weg gekom met die jonger kinders en ek kan nie een dag onthou wat dit nodig was om met hom te raas nie,” het me. Coetzer vertel.
“Hy het ‘n goeie hart en dit sal hom nog ver bring in die lewe.”
https://www.citizen.co.za/ridge-times/118115/sibusiso-relates-to-kids-with-emotional-scars/



